Video: Samantha Leonard: ‘Vat ʼn kans’ al het jy seergekry

Samantha Leonard van The Voice-faam se jongste enkelsnit en musiekvideo, “Vat ʼn kans”, is pas bekendgestel.

Dié snit, uit die donkerkop-sangeres se eie pen, kom uit haar debuutalbum Duisend keuses. Sy het die lied geskryf nadat sy deur ʼn moeilike verhouding gegaan het.

Leonard het derde geëindig as deel van mentor Karen Zoid se groep in die 2017-reeks van dié M-Net-realiteitsreeks.

“Iemand wat ek met my hele hart vertrou het, het my baie seer gemaak. Ná so ʼn ervaring voel ʼn mens soveel emosies en asof jy nooit weer liefde sal kan vind nie.

“Tog is dit altyd wanneer jy dit die minste verwag dat iemand spesiaal weer in jou lewe kom, jy jou trane afvee en jou hart weer van vooraf gelukkig maak. Al het jy seergekry, vat jy daai kans, want dalk is dit die regte een vir jou,” vertel Leonard oor die inspirasie agter dié snit.

Die enkelsnit is deur Muse Productions opgeneem en Leonard het in samewerking met Ryno Mans van RM Productions die regie van die musiekvideo behartig.

“Die musiekvideo is op twee plekke geskiet. Ons was eerste by die pragtige Allure Beauty and Spa, ʼn juweel in die hart van Benoni. Ons wou baie graag ʼn motortoneel met ʼn hommeltuig skiet, maar ons het skaars begin, toe vlieg die hommeltuig teen ʼn boom vas, so toe moes ons daardie idee maar laat vaar,” lag sy.

“Als het egter op die einde mooi uitgewerk,” voeg sy by.

“Vat ʼn kans” is ingesluit in Leonard se vollengte album, Duisend keuses. Dit is aanlyn te koop op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.