Video: Sanger bedank ma met hartroerende lied

Herman Kleinhans en sy ma, Dalet. (Foto: Verskaf)

Die geliefde rasperstemsanger en liedjieskrywer Herman Kleinhans het die lied “Dankie” verlede jaar tydens die inperking vir sy ma, Dalet Kleinhans, as ʼn huldeblyk vir Moedersdag geskryf.

Dié hartroerende snit is die jongste enkelsnit in sy nuwe album getiteld Ruite oop. Die musiekvideo van hierdie lied is pas bekendgestel en is vervaardig deur Wian van der Walt van Vonk Musiek.

Volgens Dalet was daar ʼn “oorvloed van emosies” toe sy die liedjie die eerste keer gehoor het. “Die trane het nie ophou vloei nie. Ek het so geliefd gevoel toe ek na die lirieke luister. Dit is die mooiste eerbetoon wat ʼn kind vir ʼn ma kan gee,” sê sy.

Sy sê die planne en idees wat sy en Herman met mekaar deel en die feit dat hulle kan gesels oor dinge wat saak maak, maak haar en haar musikantseun se band sterker.

“Ons is ook ten alle tye daar vir mekaar. Die feit dat Herman so ʼn omgeemens is, maak dit so maklik vir my om ʼn spesiale band met hom te hê.”

Herman vertel hy kon verlede jaar weens die inperking nie by Dalet wees op Moedersdag nie en het besluit om vir haar ʼn liedjie te skryf om dankie te sê vir alles wat sy vir die gesin doen.

“Ek het toe besef dat meeste mense in dieselfde bootjie is – ʼn mens kon nie eens blomme laat aflewer nie. So op die laaste nippertjie vra ons toe dat mense foto’s stuur van hulle saam met hulle moeders. Dit was ʼn baie mooi ervaring om almal se stories ook te lees.

“Nietemin, op Moedersdag plaas ek toe ʼn eenvoudige video op Facebook met ʼn opname wat ek in die kamer gemaak het en die reaksie was wonderlik. Ons het dus besluit om hierdie jaar dieselfde roete te volg en ook om ‘Dankie’ die tweede enkelsnit in die album te maak,” sê Herman.

Hy en sy meisie van die afgelope jaar, Maryke Steyn, het onlangs verloof geraak toe hy op die jaarlikse Gifbergspookfees in Vanrhynsdorp op die verhoog die jawoord gevra het.

“My ma hanteer almal met uiterse respek en sy is vriendelik met enigiemand wat oor haar pad kom. Sy stel werklik belang in ander mense en sy sien maklik om na ander. Sy sal nie blik of bloos om te help nie. Ek dink elke verhouding kan baat vind by ʼn selflose hart wat doelgerig te werk wil gaan om sy omgewing ʼn beter plek te maak.”

“Dankie” en Ruite oop is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die splinternuwe musiekvideo van “Dankie”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.