Video: Sanger skryf liefdesballade saam met sy vrou

Die blondekop-sanger en liedjieskrywer Len Muller het pas sy nuwe musiekvideo vir sy liedjie “Sterrewals” bekendgemaak.

Hoewel Muller al talle liedjies op sy kerfstok het, is hierdie een ekstra spesiaal omdat hy dit saam met sy vrou, Chanél, geskryf het.

“Ek het jou geken voor ons ontmoet het. Die kleur van jou oë, die klank van jou lag. Jy het my geken met al my letsels, maar ek was genoeg vir jou en jy ook vir my,” is van die lirieke uit “Sterrewals”.

“Dit is ’n nostalgiese liefdesballade, wat geskryf is uit die oogpunt van ’n bejaarde man wat terugkyk op sy lewe,” het Muller in ʼn verklaring gesê.

“Drome word nie altyd waar nie, veral as jy nie doelbewus daarvoor werk nie, en ek dink dié lied wil vir my en die mense wat daarna luister uitdaag om doelbewus te lewe en nie toe te laat dat tyd sommer net verbygaan nie.”

“Ek dink die snit het ook ’n mooi boodskap, omdat die paartjie eintlik vir mekaar sê dat hulle genoeg is vir mekaar, ten spyte daarvan dat hulle planne nie uitgewerk het nie,” het hy gesê.

Len saam met sy vrou, Chanél (Foto: Instagram)

“Sterrewals” is die nuutste vrystelling vanaf Muller se tweede album, Oog Van Die Storm, wat in 2017 uitgereik is. Die album word beskryf as Afrikaans-akoesties en sluit die klanke van al dié musikant se gunstelinginstrumente in – van die banjo en mondfluitjie tot die tjello en akoestiese kitaar.

Muller se debuutalbum, Doodgewone Avontuur, wat in 2015 uitgereik is, het hom amptelik aan die musiekbedryf bekendgestel en heelwat treffers en benoemings (Ghoema- en Tempo-benoemings vir Manlike Kunstenaar van die Jaar en Nuweling van die Jaar) opgelewer. Daarna het hy treffers soos “Ek glo”, “Sing vir sente” en “Vrede” uitgebring.

Hy is veral bekend vir die gewilde duet, “Vir die een wat geval het”, wat hy saam met Joshua na die Reën vrygestel het en “Smag na jou”, wat gebruik is op die klankbaan van die romantiese komedie Strikdas.

Oor die afgelope paar jaar het Muller die verhoog met groot name soos Francois van Coke, Straatligkinders, Jan Blohm, Bok van Blerk, Chris Chameleon, Jak de Priester en Andriëtte Norman gedeel.

Vir meer inligting oor Len Muller, besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.