Video: Sanger wil honger renosters voed

Christiaan Baartman.

Nadat hy een aand gedurende inperking gedroom het oor renosters wat nie kos het om te eet nie, het die sanger en liedjieskrywer, Christiaan Baartman, ’n ou liedjie gaan klaar skryf en so is sy jongste enkelsnit, getiteld “Stof”, geskep.

Die musiekvideo, wat deur Leon Gropp geskiet is, fokus op die goeie werk wat die organisasie Food for Rhinos doen en dit is presies wat Baartman in sy droom gesien het.

“Een van die eerste dinge wat mense inkort wanneer dit swaar gaan, is liefdadigheidsgeld. In my droom het ek gesien hoe renosters honger ly en dit breek my hart. Ek besef toe dat ons almal kos uit dieselfde stof eet en dat dit die mens se werk is om na hierdie diere te kyk,” verduidelik Baartman.

“Ons het baie opsies oorweeg toe ons die video beplan het, maar nadat ons by dr. Nele Sabbe gehoor het van die goeie werk wat Food for Rhinos doen, het ek besluit om die fokus van die video op dié niewinsgewende organisasie – wat sowat R160 000 per maand benodig om renosters te voed – te plaas.”

Die video speel af in ʼn renosterbewaringsgebied wat spesialiseer in die rehabilitasie en beskerming van renosters wat deur renosterstropery geraak is.

Renosterkalfies op die stel van die musiekvideo vir ‘Stof’.

“Daar is soveel weesrenosterkalfies wie se ouers dood is weens wilddiewe en hulle kort baie kos. Die beste deel van die opname was dié einste babas wat agter ons aangeloop het om liefde te soek.”

“Stof” is die 97ste liedjie uit dié Huisgenoot Tempo- en Ghoema-bekroonde musikant se pen en volg in die voetspore van die lekkerluister-duet, “’n Vriend soos jy”, wat hy saam met Mack Rapapali uitgereik het.

Sodra die landwye inperkings opgehef word, beplan Baartman ’n landwye toer om sy nuwe musiek met sy aanhangers te deel.

Hy is ook vasberade om ’n verskil te maak in die lewe van renosters in Suid-Afrika. Belangstellendes wat graag tot die saak wil bydra, kan Baartman direk nader of meer te wete kom oor Food for Rhinos op Facebook en Instagram.

Skenkings kan gedoen word by gofund.me/a8e2547a

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.