Video: Sangeres wil erfenis nalaat met liefdadigheidsinisiatief

Elme Churr dra haar jongste liedjie, “Stukkende Vlerk”, op aan liefdadigheid om bewusmaking te skep om armoede te verlig. Foto: Verskaf.

“Die hemel voel by tye vir ons baie vêr, maar gewone mense kan soms ’n engel wees en ’n lig laat skyn in ’n donker situasie.”

Só beskryf die Afrikaanse sangeres Elme Churr haar jongste enkelsnit, “Stukkende Vlerk”, wat sy gebruik om deur Helpende Hand se FroueVonds* behoeftige vroue te help om te gaan studeer en hulle sodoende uit die kringloop van armoede uit te lig.

“ ‘Stukkende Vlerk’ lê my na aan die hart en daarom het ek besluit om dit aan te wend om bewusmaking oor die FroueVonds se Susanna Smit Studiefonds te skep. Susanna Smit was die Voortrekkermoeder wat sonder skroom gesê het: ‘Ons trek eerder kaalvoet oor die Drakensberge…’ Só het sy vroue aangemoedig en bemagtig om dit te doen én reg te kry,” sê Churr passievol.

“Susanna lewe vandag nog voort in soveel moderne vroue se harte. Vandag nog staan hierdie kaliber vroue saam om ’n verskil te maak en ander te bemagtig. Die Susanna Smit Studiefonds beoog om 220 jaar ná Susanna se geboorte opleiding te verskaf aan behoeftige vroue sodat die vrouekrag van destyds kan vandag voortleef,” voeg sy by.

Churr verduidelik die musiekvideo van “Stukkende Vlerk” word vandag, juis op Erfenisdag, bekend gestel om elke moderne Susanna se nalatenskap te vier en die boodskap van die liedjie uit te beeld.

Churr beskou haarself as ’n egte, plat op die aarde mens wat altyd die positiewe in situasies soek. Sy wil graag mense moed gee en inspireer, en dis waarom “Stukkende Vlerk” vir haar so spesiaal is. Sy glo deur bloot na mense uit te reik met ’n glimlag of ’n koppie koffie vir die vreemdeling wat saam met jou in die hospitaalsaal wag, of met net ’n klein, vriendelike gebaar kan jy ’n engel vir iemand wees.

“Dit mag dalk vir jou voel soos niks nie, maar met klein verskilletjies kan ons ’n groot verskil maak,” sê sy.

Die omslag van Elme Churr se enkelsnit getiteld “Stukkende Vlerke”. Foto: Verskaf.

“Stukkende Vlerk” is deur Vaughan en Nerine Gardiner geskryf en Churr se voorliefde vir folk, country en vloeiende lirieke word duidelik in die lied gehoor. Sy het die liedjie vervaardig saam met Hugo Ludik en Vaughan Gardiner. Coleske Artists doen die verspreiding hiervan.

Churr se nuwe album, Kos Vir My Siel, is reeds op JOOX beskikbaar en dié enkelsnit is daarop te hoor. Die album sal ook binnekort beskikbaar wees op alle ander digitale platforms. Die musiekvideo vir “Stukkende Vlerk” was besonder spesiaal, veral omdat soveel emosies betrokke is. Churr wil graag vir jongmense wys dat jou omstandighede jou nie moet beperk nie en deur die Susanna Smit Studiefonds wil sy saam met Helpende Hand ’n positiewe invloed op vroue se lewens hê.

“Daar is so baie stukkende vlerk‑vroue daar buite, gewone mense – ek en jy – kan dit vir hulle moontlik maak om te gaan studeer en ’n toekoms vir hulself te skep. Besoek frouevonds.co.za om te kyk hoe om dit te doen. Kom ons maak die stukkende vlerke weer heel deur ’n helpende hand te bied en help die moderne vrou oor haar Drakensberg.”

*FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by hulle slagspreuk: “want alles loop nie altyd reg nie”.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Darius ·

Wat ‘n pragtige liedjie vir so mooi inisiatief! Dit gee ‘n mens hoop in donker tye. Dankie!

Rosetta ·

Girl power! Dankie pragtige Elme en dankie Helpende Hand… Hierdie liedjie roer my diep!

Tania Strauss ·

Pragtige lied. Wil dit graag vir al die dames stuur wat so groot verskil maak by die Annebel Foundation. Dankie dat julle altyd net gee en gee en ‘n verskil in mense se lewe maak!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.