[Video] Sangers vereer by Afrikaans is Groot se 10de verjaarsdag

Deon van der Merwe en Ruhan du Toit van Touch of Class ontvang hul toekenning (Foto: Twitter)

Talle van Suid-Afrika se bekendes het Maandagaand saam met die Afrikaans is Groot-bestuur gekuier om dié handelsmerk se tiende bestaansjaar te vier.

As deel van die feesviering het Afrikaans is Groot ook sy tiende Afrikaans is Groot-album, propvol treffersnitte, bekend gestel.

Ewald Coleske, medestigter van die handelsmerk, het gesê Afrikaans is ná tien jaar steeds dié handelsmerk se passie en ook die rede waarom dit nog jare lank suksesvol sal bly.

“Ons werk met briljante kunstenaars – ons het in dié stadium ses of sewe titels in die Top 20-verkope. Ons is trots op elkeen wat hierdie handelsmerk laat werk en dit gevat het tot waar dit is vandag; die musikante en die regisseurs en die videograwe en almal agter die skerms.

“Daar is soveel mense wat alles agter die skerms opoffer en natuurlik moet ons ook dankie sê vir dié wat ons musiek ondersteun. Ons is trots op hierdie handelsmerk en hopelik kan ons met nog ondersteuning en genade van bo die handelsmerk nog jare lank laat voortbestaan,” het Coleske gesê.

“Dis ʼn groot voorreg om hier te wees. Ek stap die pad al tien jaar saam met hulle en sou dit saam met niemand anders wou doen nie – dis soos ʼn familiebyeenkoms vanaand. Dankie aan elkeen wat Afrikaans en Afrikaanse musiek ondersteun; ek hoop Afrikaans bly nog baie groot vir 300 jaar en meer,” het Bobby van Jaarsveld vertel.

Steve Hofmeyr ontvang sy toekenning (Foto: Twitter)

“Wat ʼn voorreg om te kan deel in so ʼn lieflike feesviering. Ons is lief vir en passievol oor Afrikaans en dis wonderlik dat dit ná tien jaar steeds ondersteun word,” het Donnalee Roberts gesê.

Twee toekennings is ook deur die loop van die aand uitgedeel. Die Afrikaanse musiekgroep Touch of Class het ʼn toekenning ontvang vir sy jongste album, Magic, wat goue status behaal het.

Steve Hofmeyr se jongste album, Skree, is ook met ʼn toekenning bekroon nadat dit goue status behaal het nog voor dit in winkels te koop was.

“Musica het nou die dag laat weet hulle soek 12 000 eenhede [van Hofmeyr se album], CNA het laat weet hulle vat ʼn paar duisend en die hele wêreld gons oor die album – ek weet hoekom, want dis ʼn briljante album,” het Coleske laat hoor.

Die aand het egter selfs nog hoogtepunte ingehou: Bobby van Jaarsveld se musiekvideo vir die liedjie “Net ʼn man”, waarvoor hy verlede maand na vier mans gesoek het wat na hom lyk, is ook bekend gestel. Dié musiekvideo word later in Oktobermaand vir die publiek vrygestel.

Die Afrikaans is Groot-konsertreeks word in November vanjaar in Pretoria gehou. Vir meer inligting, besoek Afrikaans is Groot se Facebook-blad.

Die albums wat bekend gestel is (Foto: Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.