Video: Sangers verwerk bekende lied ‘om hoop te skep’

Jack Stone in ‘n skermgreep uit die musiekvideo vir ‘My African Dream’.

Christien de Klerk, skakelbeampte en direkteur van Embrace The Brand Media, wat kunstenaars soos Jack Stone, Matt Stern en Johan Anker verteenwoordig, het kort na die aanvang van die inperking dié musikante genader om ʼn eg inheemse liedjie op te neem wat ʼn boodskap van hoop uitdra tydens die Covid-19-pandemie.

De Klerk het met musiekvervaardiger Sean Butler oor hierdie idee gesels en Butler het die trefferliedjie “My African Dream”, oorspronklik deur die sangeres Vicky Sampson, voorgestel vir die projek.

Jack Stone, Matt Stern, Johan Anker gooi hul musiektalente saam met dié van opkomende kunstenaars Chris Theron, Mondrey, Hannah, Chanté en die duo GnT Band vir hierdie samewerkingsnit.

“Die sangers woon dwarsoor die land, van Kaapstad tot Kimberley en Pretoria, maar die meeste het hul eie ateljees by die huis waar die opnames gedoen is,” verduidelik De Klerk.

‘n Skermgreep uit die musiekvideo vir ‘My African Dream’.

“As gevolg van die inperking was dit ʼn enorme logistieke uitdaging om die liedjie op te neem. Ons wou seker maak dit word professioneel gedoen en dat die eindproduk van ʼn hoë gehalte is omdat ons dit digitaal op alle platforms wil vrystel.”

Butler en Francois Steyn het die liedjie gemeng en vervaardig. Die sangers het ook musiekvideo’s tuis gemaak met behulp van ʼn selfoontoepassing. Stone se bestuurder, Johann Latsky van Latsky Multimedia, het die afsonderlike video’s in een musiekvideo geredigeer.

“Musiek is ʼn universele taal en dit is wonderlik dat ons as kunstenaars dit kan aanwend om ʼn positiewe boodskap van hoop in hierdie moeilike tyd oor te dra,” sê Stone, ʼn rocker van Kaapstad.

Die sangeres Chanté sê dit was ʼn voorreg om saam met kunstenaars en vervaardigers wat ʼn liefde vir musiek en die land deel, te werk. “Ons het nie toegelaat dat enige struikelblokke in ons pad staan om iets ongelooflik te skep nie. Hierdie is vir jou Suid-Afrika!”

Matt Stern in ‘n skermgreep uit die musiekvideo vir ‘My African Dream’.

Volgens Chanté is “My African Dream” een van die mees herkenbare liedjies in Suid-Afrika. “Die liedjie is simbolies om na jou wortels terug te keer of jouself weer te vind. Dit is ʼn liedjie wat hoop en eenheid versinnebeeld. Die liedjie herinner ons daaraan dat ons drome bly leef en dat die son weer gaan skyn. Ons is almal saam in hierdie moeilike tyd,” sê sy.

Johan Anker sê “My African Dream” laat sy bors swel van trots om ʼn Suid-Afrikaner te wees. “Die liedjie herinner ons aan ons herkoms en die droom van solidariteit. Ek voel altyd bietjie patrioties wanneer ek daarna luister.”

Hy sê baie mense voel neerslagtig in hierdie tyd en het ʼn vrees vir die onbekende. “Ons wil mense hoop en vertroosting met hierdie liedjie gee en ook die boodskap oordra dat ons sterker is wanneer ons almal saamstaan. Ons almal het ʼn rol om te speel en die droom ʼn realiteit te maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.