[Video] Sewejarige wonderwerkie het gehoor gaande

Abigael Beckmann op 27 Augustus 2017 saam met Jonathan Roxmouth en die Capital Singers op die Staatsteater-verhoog (Foto: Skermgreep uit die video)

Die sewejarige Abigael Beckmann het die gehoor Sondag gaande gehad toe sy aan ʼn baie spesiale “encore” deelgeneem het by die Capital Singers se vertoning in die Staatsteater in Pretoria.

Melinda, Abigael se ma, het aan Maroela Media verduidelik haar man en skoonsussie sing ook in dié koor en sy het gereeld saam met haar pa in die oggend op pad skool toe, aan die liedjies geoefen.

“Sy is veral dol oor die Prince of Egypt-liedjies, en ken meeste van die liedjies se woorde uit haar kop. Sy leef absoluut vir sing en dans,” vertel Melinda.

Toe Melinda 20 weke swanger was met Abigael, het die dokters egter tydens ʼn skandering die egpaar gewaarsku dat sy met die seldsame sindroom spina bifida, oftewel ‘n kongenitale spleet, gediagnoseer is. Die dokters het die egpaar ʼn paar keer tydens haar swangerskap aangeraai om haar te aborteer.

“ʼn Genetikus het ons gewaarsku dat sy ‘definitief gestremd’ sou wees. Baie mense het saam met ons gebid en ons het op God vertrou.”

Abigael is gebore en toe sy twee dae oud was, het dokters ʼn rugoperasie op haar uitgevoer. “Sy het net ná ʼn jaar begin kruip en tussen 15 en 17 maande oud begin loop. Nou sing en dans sy die hele sitkamer vol!”

Abigael se naam beteken “vreugde van die Vader (God)” en haar tweede naam Hannah beteken “iemand wat God se guns ontvang”. “Ons het op haar name besluit terwyl ek swanger was en geweet het sy gaan met spina bifida gebore word. Ons het toe besluit haar naam sal betekenis hê vir wat nog sou kom,” verduidelik Melinda.

Melinda en Abigael het Sondagaand die Capital Singers se konsert in die Staatsteater bygewoon en Abigael het haar ma glo voor die tyd al gewaarsku dat sy gaan saamsing.

“Sy het in die eerste helfte omtrent haar gate uit geniet in die stoel hier langs my! Sy het in ʼn stadium tot haar hande om haar gesig geslaan van opgewondenheid. Ek moes vir haar verduidelik dat sy nie te hard kan saamsing nie, want dis ʼn professionele vertoning.”

Melinda verduidelik die orkeslede het net voor die tweede sessie aan Jonathan Roxmouth, die solis wat saam met die Capital Singers opgetree het, gesê daar is ʼn dogtertjie in die voorste ry wat so lekker saam sing en dans. “Met die aanvang van die tweede sessie het hy die gehoor daarop gewys en gesê hulle is welkom om saam te sing as hulle die woorde ken! Ek is dankbaar hy het dit nie al in die eerste sessie gesê nie!” skerts sy.

“Hy het teen die einde van die aand, toe hy Beauty and the Beast sing, vir haar gekyk en geglimlag en ná die vertoning, net voor die encore, het hy met haar gesels om te hoor of sy dit geniet het. Sy het haar kans aangegryp en ek het verduidelik sy wil graag saam met hulle sing!”

Roxmouth en die dirigent, Michael Barrett, het vinnig gesels en ingestem om die program te verander sodat hulle die liedjie “When you believe” saam met Abigael kan sing. Hy het haar op die verhoog getel en sy het die gehoor gaande gehad.

“Sy ken selfs die Hebreeuse deel aan die einde van dié lied, dis jammer hulle het dit nie gehoor nie! Maar sy het ná die tyd vir my gesê dis absoluut ʼn droom wat vir haar waar geword het.”

Volgens Abigael is Jonathan ʼn “baie mooi en peaceful oom”.

“Jonathan en Michael het glad nie Abigael se agtergrond geken nie, so dis regtig nie asof hulle haar net jammer gekry het nie, hierdie was regtig net ʼn baie spesiale gebeurtenis,” vertel Melinda verder.

Abigael vier op 11 September haar agtste verjaarsdag, maar haar partytjie vind hierdie Saterdag plaas. Die tema is natuurlik Prince of Egypt.

Abigael is in Nuwe Hoop-skool in Pretoria. “Sy het haarself die volkslied, ‘Nkosi Sikelel’ iAfrika’, aangeleer deur YouTube-video’s en ʼn goud hiervoor verwerf tydens die Eisteddfod.”

Melinda vertel Abigael het al ʼn paar ander operasies ook ondergaan, onder andere blaas- en voet-operasies, maar dis duidelik dat niks dié wonderwerkie stuit nie.

“Ons wil regtig baie dankie sê aan Jonathan Roxmouth, Michael Barrett en Christo Burger vir hierdie wonderlike geleentheid.”

Pieter Lombard, wat in die gehoor was tydens Abigael se deelname, het ʼn video daarvan op YouTube gedeel en dié video word nou wyd op sosiale media versprei. Die video word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Martie Krynauw ·

Well done liewe Abi, ek huil elke keer as ek jou video sien. jy is n voorbeeld vir soveel mense, ons is baie lief vir jou

Doreen Beukes ·

Pragtig! Ware ou engeltjie! Mamma Melinda, jou geloof, opoffering en en liefde wys ons dat niks onmoontlik is by ons Skepper nie. Mag Sy genade swaar op jou en gesin rus.

Ans Becker ·

Dankie, sien “kondukteur” is nou vervang met dirigent. Vervang asb “siloïs” met “solis”….

Lelani ·

Wens ek kon ‘n duideliker video sien van haar groot hoogtes vir haar is beskore!!!

Annelize Oosthuizen ·

Baie mooi Abi ons is baie trots op jou.
Jy is baie spesiaal en baie na aan ons hart
`n Wonderwerk gebore met `n baie groot talent

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.