Video: Simon Cowell sê ‘ja’ vir SA jeugkoor

Die Ndlovu Youth Choir op die America's Got Talent-verhoog.

Die Ndlovu Youth Choir op die America’s Got Talent-verhoog.

ʼn Suid-Afrikaanse jeugkoor van Limpopo het onlangs die beoordelaars én die gehoor gaande gehad tydens ʼn oudisie vir die Amerikaanse talentsoekkompetisie, America’s Got Talent.

Die Ndlovu Youth Choir, wat gebaseer is in die Moutse-nedersetting in Limpopo, het vier onomwonde ja’s van die vier beoordelaars, Simon Cowell, Julianne Hough, Gabrielle Union en Howie Mandel, en ʼn staande toejuiging van die gehoor ontvang ná afloop van hul weergawe van die bekende liedjie “My African dream”.

Die koor se oudisie is Dinsdagaand (plaaslike tyd) in die VSA uitgesaai en die koor gaan nou deur na die volgende ronde van die kompetisie.

Die koorleier, Ralf Schmitt, het aan Cowell gesê die koor bestaan reeds tien jaar. Cowell is bekend daarvoor dat hy een van die strengste beoordelaars van die talentsoekkompetisies American Idol en America’s Got Talent is.

Een van die koorlede, wat homself as Sandile voorgestel het, het vertel dat dit sy eerste besoek aan die VSA is. Hy het bygevoeg dat die inwoners van die Moutse-nedersetting in uiterste armoede leef. Nog ʼn koorlid het gesê dat daar nie elektrisiteit in die nedersetting is nie en dat die meeste huisgesinne sonder lopende water oorleef.

(Foto: Facebook via Ndlovu Youth Choir)

(Foto: Facebook via Ndlovu Youth Choir)

“Baie van die kinders se ouers is oorlede,” het Schmitt gesê. “Hulle moet op hulle eie na hulle jonger sibbe omsien. So, om daardie weeskinders en kwesbare kinders te help het ons ʼn koor op die been gebring.

“Baie van die kinders wat by die koor aansluit, dra die gewig van die wêreld op hulle skouers. Hulle is afkomstig van een van die armste gemeenskappe ter wêreld en tog kan hierdie kinders dit regkry om hulself op te lig. Om hulle te sien staan op die verhoog van America’s Got Talent … jy kan nie help om net te bars van trots nie,” het ʼn emosionele Schmitt gesê.

“Ons wil vir die wêreld wys enigiets is moontlik,” het Sandile bygevoeg.

Die video van die koor se oudisie, wat net gister op YouTube gelaai is, het reeds bykans ʼn halfmiljoen trefslae.

Die Ndlovu Youth Choir het ook verlede jaar saam met die Grammy-bekroonde dwarsfluitspeler Wouter Kellerman ʼn Zoeloe-weergawe van die sanger Ed Sheeran se gewilde liedjie “Shape of You” opgeneem en ʼn video daarvoor uitgereik. Dié video is bykans 3 miljoen keer op YouTube gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Proud ·

Die maak my sommer weer trots om n Suid Afrikaner te wees!

Essa ·

????????Beste wense vir hulle verder in die kompetisie. Hier is talent!

Morrie ·

Ek wens ons kan al die gemors agter ons sit en as een nasie voorentoe beweeg. Dat ons almal n “African Dream” kan he en die land n beter plek maak vir almal van ons. Ons het soveel wat ons van mekaar kan leer. Dankie aan die koor vir hoe julle SA verteenwoordig en mag julle net grooter en sterker word. Ek wens julle ALLE sukse toe vir die toekoms.

Flippen trots ·

DIT maak my so ongelooflik trots om deel van hierdie land te wees! Ek het lekker saam gesing met trane in my oë.

Anique ·

Ek was skoon emosioneel en ek is so TROTS om ‘n Suid-Afrikaner te wees. Julle is rolmodelle en elkeen kan trots wees waar jy staan vandag in jou lewe. Julle het ons naam hoog gehou en ek wens julle alle sukses toe. Siyabonga Ndlovu Youth Choir!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.