Só maak sangers plan oor Covid  

Janie Monsieur van Maroela Media saam met Ghapi, Jay, Liezel Pieters en Martin Bester by Weiveld. (Foto: Verskaf.)

Hopelik kom daar weer ʼn tyd dat sangers en musikante enige tyd vertonings kan aanbied, maar in die tussentyd moet die geld steeds op ʼn manier inkom, want die bankbestuurder gaan nie tot dan wil wag nie.

Só meen die sanger en radio-aanbieder Martin Bester oor die verreikende gevolge wat die voorsorgmaatreëls teen die nuwe koronavirus (Covid-19) op die plaaslike vermaakbedryf het.

Bester, Ghapi, Jay en Liezel Pieters het met Janie Monsieur van Maroela Media gesels oor die impak van die virus op die bedryf tydens ʼn regstreekse uitsending op die gewilde kuierplek Weiveld se Facebook-blad. Hulle het ook voorstelle gemaak oor hoe die publiek die plaaslike vermaakbedryf in dié tyd kan ondersteun.

Ghapi sê hy het teen Maandagmiddag reeds drie maande se werk in ʼn oogwink verloor. “Ek was die middag baie moedeloos want jy moet steeds jou huis en polisse betaal en jy dink dadelik hoe gaan jy nou kos op die tafel sit.”

Hy het egter vinnig besef dit is nou die tyd om koelkop te bly. “Ek dink egter almal moet nou net eers kalmeer en besef die Here is steeds in beheer. Dit is net kwessie van ʼn bietjie vasbyt en dinge sal weer beter gaan.”

Pieters het Ghapi se sentiment beaam en gesê dit is vir almal in die vermaakbedryf ʼn sit-en-wag-speletjie om te kyk wat vorentoe gaan gebeur.

“Niemand weet ook presies wat regtig gaan gebeur die oomblik as die voorsorgmaatreëls om die virus te bekamp opgeskort word nie, en groepe mense weer bymekaar mag kom nie,” het sy gesê.

Jay verduidelik spelers in dié bedryf weet elke jaar het gewoonlik besiger en stiller maande. “Ons as sangers en musikante is gewoond daaraan om maande te hê waar daar minder werk inkom, maar dit is gewoonlik iets wat jy vooruit kan beplan en dan kan jy ook daarvoor geld wegsit.

“Ons sit nou egter in moeilike situasie waar ons nie nou in die volgende drie maande voorsiening kan begin maak vir die maande wat eintlik regtig stiller is nie.

“Die eintlike krisis waarmee ons nou sit, is om ons bestaande kliënte te oortuig dat hulle steeds ons kontrakte met ons moet behou en alles op tyd betaal, terwyl die vertonings se datums uitgeskuif word na later vanjaar. Ongelukkig stel nie al die kliënte belang in die opsie nie,” het Jay gesê.

Bester het gesê in sy geval gaan dit vir hom veel eerder oor die professionele musikante waarmee hy gewoonlik saam musiek maak. “My hart gaan uit na hulle, hulle doen wat hulle doen vir ʼn lewe. Ek het twee klankingenieurs gehad wat my in die week gebel het, wat gesê het hulle is in groot moeilikheid.”

Al die sangers is dit eens dat almal in die bedryf, van mense wat verhoë verskaf tot by die kroeg en die kelners wat kos en drankies bedien, die volgende paar maande gaan swaar trek.

Bester het veneus soos Weiveld geloof vir sy pogings om mense te oorreed om nie hulle kaartjies se geld terug te eis nie, maar eerder te hou en vir ʼn later vertoning te gebruik.

Jay het skertsend gesê mens moet dit sien as ʼn soort groot spaarplan vir ʼn partytjie as die epidemie verby is. “As hierdie ding eers verby is en ons kan almal weer saam kuier, kan ons regtig groot gaan. Jy het dan al reeds gespaar vir dié groot partytjie.”

Kyk na die volledige video van die regstreekse uitsending hier vir nog idees hoe jy sangers en musikante tydens die isolasietydperk kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.