Video: ‘Staan vas in die Here’ sê sanger oor nuwe lied

Dewald Gouws (Foto: Verskaf)

“Ek wil met dié video mense aanmoedig om op te staan, om verby die teleurstellings van die lewe te kyk, en om hul koppe omhoog te hou.”

Só sê die gospelsanger Dewald Gouws oor die musiekvideo van sy liedjie “Staan op”, wat vandag eerste op Maroela Media bekendgestel word.

Gouws sê hy wil mense aanmoedig om in hul persoonlike lewe, asook vir Suid-Afrika, op te staan en nie te gaan lê nie. “Mens is so bekommerd oor jou toekoms hier, en partykeer dink mens daaraan om te emigreer, waarheen ook al, om ʼn beter toekoms vir jou kinders te skep. Maar ʼn goeie vriend het eendag vir my gesê dit maak nie saak waar jy is nie, jy moet wees waar jy vrede het en waar die Here jou wil hê,” sê hy.

Gouws sê dié gesprek het sy uitkyk op die moeilike dinge in die lewe verander en dat hy nou op die Here vertrou om vir hom en sy kinders ʼn goeie toekoms te gee.

Hy vertel hy is die laaste paar jaar deur ʼn moeilike tyd nadat hy sy ma, broer en jarelange klankman aan die dood afgestaan het.

“Toe ek na al hierdie moeilike goed weer begin skryf het, het ek vir die Here gevra waaroor ek moet skryf. En die antwoord was eenvoudig: Ek moet skryf wat in my hart is.”

Gouws sê hy kry daagliks boodskappe van mense wat in slegte omstandighede leef, wat werkloos is en wat swaar kry. Daarom wou hy hoop en bemoediging deur sy musiek bring.

“Daar is geweldig baie seer, mense kry verskriklik swaar. Ek wil vir mense sê hulle moet opstaan en vergeet van teleurstellings en onsekerhede. Staan op en maak jou identiteit vas in Christus – Hy leef binne in jou. Jy moet jou uitdagings in die oë kyk en sáám met die Here opstaan. Saam kan jy ʼn sukses van jou lewe maak,” sê hy.

Gouws sê hy hoop mense voel opgewonde en vrolik in hul harte wanneer hulle na “Staan op” luister. Hy wil hê mense moet ʼn nuwe seisoen van hul lewe binnegaan, waar hulle vas staan in die Here.

Dié liedjie sal op Gouws se jongste album, Staan saam, wat in September vrygestel word, beskikbaar wees.

Gouws stel ook van die snitte op sy album gratis aan die publiek beskikbaar omdat hy eerder die boodskap by die mense wil uitkry as om die geld in sy sak te steek. “Die Here het dit op my hart gelê om die musiek gratis te maak. Dit is vir my belangriker dat die boodskap by gehore uitkom, as wat die geld is,” sê Gouws.

“Daar is mense wat nie geld het nie en om ʼn CD te koop is ʼn luuksheid, dit is die laaste ding waaraan baie mense dink. ʼn Groot deel van my mark weet ook nog nie lekker hoe die digitale platforms werk nie, so ek wil dit vir hulle maklik maak. Ek vertrou met my hele hart dat daar salwing daaragter is,” sê hy.

“Staan op” is op alle digitale platforms beskikbaar en mense wat van die snitte gratis wil hê, kan vir Gouws ʼn persoonlike boodskap op WhatsApp stuur by 082 931 4020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elmarie ·

Bravo Dewald!
Jou hart sit op die regte plek.
Mag jyself en die wat daarna luister abundantly gebless word.

Peter ·

‘n Mooi en professionele opname. Wonderlik dat jy dit boonop gebruik om die Here se naam groot te maak en om uit te reik na jou medemens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.