Video: Stella vind genesing deur musiek

Stella. (Foto: Facebook)

Toe haar pa verongeluk en sy en haar man deur ʼn moeilike huweliksfase gaan, het Stella ʼn manier gesoek om dit alles te hanteer. Vandaar het dié musikant en liedjieskrywer se kontemporêre snit, “Skree”, gekom.

Stella, oftewel Christelle Combrink, het al ʼn hele rits toekennings en albums op haar kerfstok, maar haar nuwe musiekvideo wys ʼn ander kant van dié sangeres.

Die musiekvideo vir “Skree” word vandag eerste op Maroela Media bekendgestel.

“Dit gaan oor iemand wat emosioneel oorlaai is en leeg voel. Tydens ʼn alleen-oomblik ‘skree’ sy haar frustrasie en seer oor die see uit,” sê Stella oor “Skree”.

Sy beskryf dié sielvolle snit wat sy saam met Rouxan Cloete en Jake Odendaal geskep het as rou en eerlik. “Toe ons die liedjie geskryf het, kon ek terugdink aan die tyd toe my pa verongeluk het. Ek en my man het op daardie tydstip ook deur ʼn moeilike huweliksfase gegaan en dit het gevoel asof alles gelyk gebeur, maar ek moes net aangaan,” vertel sy.

“Ek onthou hoe leeg en seer daardie tyd was en ek is bly ek kon iets skryf om dit te verwoord. Ná jare voel dit asof ek kan erkenning gee daaraan en het dit vir my die laaste stukkie genesing bring.”

Die omslag van Stella se splinternuwe kontemporêre solo-album, Ek kies jou. (Foto: Verskaf)

In plaas van ʼn gewone storielyn of vertoningsopname weerspieël die musiekvideo van “Skree” die emosie van die liriek deur gebruik te maak van verskillende moderne visuele beelde en tegnieke. Die konsep is deur die regisseur en vervaardiger Paul Hugo van Ubuntu Visual uitgedink en in hulle ateljee op die Rosemary Hill-landgoed verfilm.

“Skree” is die tweede voorsmakie van wat aanhangers van Stella se splinternuwe kontemporêre solo-album, Ek kies jou, kan verwag. Stella beskryf dié album as ʼn versameling van haar mees persoonlike werk tot op hede.

Stella sing ʼn liedjie vir haar pa, vir haar man én ʼn liedjie saam met Adam Tas op Ek kies jou.

“Ek wil hê my musiek moet mense se emosies raak, hulle vorentoe laat kyk en vir hulle hoop gee. Afgesien van die emosie wil ek ook hê dit moet hulle ore seën met mooi gehalteklanke wat hulle sommer net kan geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.