Video: Steve se ‘redgebed’ vir Suid-Afrika

‘n Skermskoot uit die video

In ʼn tyd wat storms woed en mense wanhopig is, is daar min wat troos bring soos dié van Bo, sê die sanger Steve Hofmeyr. Daarom sing hy in sy jongste enkelsnit oor ʼn “redgebed” – ʼn uitroep na God om in te gryp.

Hofmeyr het Maandag dié enkelsnit en die musiekvideo van die liedjie op sosiale media bekend gestel. Die video is in minder as ses ure bykans 8 000 keer op sosiale media gedeel en derduisende kere gekyk.

Die musiekvideo is by die Centurion-teater en by Kameeldrift in die ooste van Pretoria verfilm.

Die sanger vertel aan Maroela Media dié liedjie verwoord ʼn tipe sentiment wat baie mense ervaar. “As volksdigter praat ek uit mense uit en ek voel my mense se wanhoop. My werk is om dit in eenvoud te verwoord. Ons kan doen met ʼn paar gebede,” vertel hy.

Hy sê die boodskap van dié liedjie is dat “elke ander troos naas dié wat ons God ons bied”, ons min gebring het tot op hierdie punt.

“Ek is dalk ʼn groter sondaar as Christen, maar ek kan soveel vermag met my mense langs my, my kultuur agter my, my taal in my en my Skepper aan die stuur. Dit bring my troos en krag,” sê hy.

‘n Skermskoot uit die video

Hofmeyr is vroeër tydens ʼn Afrikaans is Groot-geleentheid met ʼn goue toekenning vereer nadat sy jongste album, Skree, goue status behaal het selfs nog voordat dié album in die winkels beskikbaar was.

Die album is so te sê verby dubbelplatinumverkope (40 000 eksemplare) in slegs drie maande ná uitreiking – iets waaroor hy “dankbaar en trots” is. “Met my ingewikkelde en soms vreemde konteks (politiek, kultuur, boikotte) is Skree vir baie ook ʼn manier om gehoor te word. Dit was tog die doel van die titel,” sê hy.

Aanhangers kan dalk iets heel anders van Hofmeyr verwag vir sy 31ste album. Op ʼn vraag oor of hy reeds aan ʼn nuwe album werk, antwoord hy: “Ek moet in my middeljare begin uitreken wat ek nog nooit gedoen het nie. Soos ʼn ordentlike Kersalbum.”

Skree bestaan uit 13 oorspronklike snitte, geskryf deur Hofmeyr. Hy het vroeër gesê hy het vir die eerste keer in vyf jaar ook gekomponeer. Laai dié album op iTunes af.

Vir meer inligting, besoek Hofmeyr se Facebook-blad.

Redgebed

Posted by Steve Hofmeyr on Sunday, March 4, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sann ·

Ek wens dat elke mens sy eie “redgebed” versie op ‘n klip kon skryf, en dan pak ons een groot muur tussen ons en die boosheid wat ons land wil verswelg… Ou Steve, die Here het daardie tollenaar baie liewer gehad as die hoogmoedige Fariseër. Vat vyf vir SKREE!

Piet ·

Steve ek was nog altyd een van die ouens wat krities op jou was, agv dinge wat jy in jou verlede gedoen/ gese het. Mens kon sweer ek maak self nie voute nie. Ek hoop jy aanvaar my verskoning. Jy het ‘n stem vir die Afrikaner geword in ‘n duisternis van geweld, waar niemand n flenter omgee nie en dit tewyl baie, soos ek self, op die kantlyn staan en kritiseer.

Ronel ·

Dis tyd dat ons wakker skrik en ophou om die lewe te sugar coat !!!! Ten minste probeer Steve iets se en doen, dis meer as wat meeste inwoners van SA doen, en daar is baie nasies binne SA wat SKREE vir n RED GEBED nie net blankes nie, moenie met oogklappe na hierdie Gebed kyk nie, alle nasies gaan saam op hulle knie staan kort voor lank…. mense wat so vinnig praat, gaan stik aan hulle woorde en dan het jy hierdie gebed nodig !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.