Video: Suidoosterfees-kunstenaars vereer vroue vir gemeenskapsdiens

Van Links voor: Nicole Holm, Babalwa Mentjies, Naazneen Karriem, Diana Ferrus, Buhle Nqaba, Lynelle Kenned en Luna Paige.
Agter van links: Cintaine Schutte, Vicky Davis, Schalk Joubert en Jawaahier Petersen.
(Foto: Verskaf)

Talle Suid-Afrikaanse kunstenaars, wat vroeër vanjaar optredes op die Suidoosterfees moes kanselleer oor die Covid-19-pandemie, het kragte saamgesnoer om ʼn spesiale liedjie en musiekvideo te vervaardig om Suid-Afrikaanse vroue te vereer.

Cintaine Schutte, Buhle Ngaba, Nicole Holm, Babalwa Mentjies, Luna Paige, Lynelle Kenned en Jawaahier Petersen het saam met die bekende digter Diana Ferrus aan die projek, vervaardig deur die Suidoosterfees en die Cape Town Music Academy (CTMA), deelgeneem.

Die projek is van stapel gestuur om vroue te vereer vir hul gemeenskapsdiens en bydrae om tydens die pandemie hoop en genesing te bied.

In die video word die ontslape musikant Lucas Maree se lied, “Die weduwee se kruik”, gekombineer met ʼn ode aan noodsaaklike werkers deur digter Diana Ferrus.

Twee van dié vroue, Naazneen Karriem en dr. Karienya Kasvalu, is ook in die musiekvideo te sien.

Karriem bedryf al ʼn dekade lank ʼn sopkombuis in Chapelstraat, Kaapstad. Sy kook elke dag vir behoeftiges uit haar houthuisie op ʼn lappie grond tussen twee nagskuilings. Kasvalu is ʼn voetsoldaat in die stryd teen die pandemie in ʼn Kaapse hospitaal se noodeenheid.

Diana Ferrus en Naazneen Karriem. (Foto: Verskaf)

Vicky Davis, programbestuurder by CTMA, was aan die stuur van die projek en het ook die regie van die video behartig. Schalk Joubert het die musiek vervaardig en verwerk terwyl die video- en klankopnames deur Sunset Recording Studios gehanteer is.

Davis meen dat die ongelooflike werk wat vroue soos Karriem en Kasvalu elke dag doen, nie ongesiens moet verbygaan nie.

“Hierdie video is ʼn viering van vroue se onmiskenbare, noodsaaklike bydrae tot die gemeenskap. Die projek is ook ʼn viering van ʼn ander belangrike komponent van ons samelewing – die kunste. Dit is ʼn vrouekragtoer van kreatiwiteit en ʼn voorbeeld van die positiewe wat kan verrys uit die tema van vroue wat mekaar ondersteun, en dít is die boodskap wat ons graag met die video wil uitstuur.”

Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, sê Suid-Afrika het ʼn lang geskiedenis van sterk vroue.

“Vandag veg vroue oor die wêreld steeds vir die reg op gelykwaardige behandeling. Vroue moet ook dikwels hul rande veel verder rek om in noodsaaklike behoeftes te voorsien. Spreekwoordelik is Suid-Afrikaanse vroue weduwees met kruike,” sê sy.

“Ek voel dis ongelooflik belangrik om eer en dank te betoon aan hierdie formidabele vroue wat elke dag uit hul pad gaan en mense met liefde en respek help en sodoende hoop wek,” sê die Fynskrif-aktrise Cintaine Schutte.

Dr. Karienya Kasvalu. (Foto: Verskaf)

“Sterk vroue met harte van goud, dankie vir alles wat julle doen; ons sien julle raak en waardeer julle.

“Dit is min dat ʼn mens so baie vrouekunstenaars saam in ʼn vertrek, ateljee of op die verhoog sien. Dit was wonderlik om al die talentvolle en dinamiese vroue te ontmoet, beter te leer ken en saam iets moois te skep wat ander hopelik sal raak,” sê die sangeres Luna Paige.

“Wat vir my uitstaan, is dat die wêreld werklik kan baat by die unieke eienskappe en bydrae van vroue. Ek dink dit is wat ons gevier het en moet aanhou vier solank ons kan.”

Nader Naazneen vir skenkings aan “Kitchen for the People” by: [email protected]. Besoek die webwerf vir meer inligting.

Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.