[Video] The Voice-finalis stel eerste enkelsnit bekend

Foto: Facebook

Caroline-Grace Brüssow, die blonde sangeres van Bloemfontein wat bekendheid verwerf het toe sy onder die vier top-kandidate in The Voice SA geëindig het, het pas haar eerste enkelsnit bekendgestel.

Caroline-Grace , vrou van die rugbyspeler Heinrich Brüssow, sê dié enkelsnit, “Ek bid vir jou”, lê haar baie na aan die hart.

Die liedjie is deur Roux Cloete en Niel Schoombee geskryf. In die musiekvideo is baie foto’s van Caroline-Grace en Heinrich te siene. “Al het ek nie die liedjie geskryf nie, was ek geïnspireer daardeur, want dit is ook my situasie,” het Caroline-Grace aan Maroela Media vertel.

“Heinrich is oorsee [waar hy vir die Japanse klubspan Docomo Red Hurricanes speel] en ons moet vir lang tye aaneen sonder mekaar klaarkom. Ons was ses maande weg van mekaar af tydens The Voice, wat die langste nóg was. En nou is ons ses weke weg van mekaar en dan in Oktober wéér ses weke. Ons sien mekaar eers weer in Desember,” het sy gesê.

Caroline-Grace tydens The Voice SA (Foto: Facebook)

“Afstand is moeilik. Ek moet my droom hier leef met my sangloopbaan, en hy moet syne leef. Maar hý is my droom, so afstand maak dit maar moeilik.”

Caroline-Grace sê hoewel die liedjie vir haar een ding beteken, kan dit vir iemand anders ʼn ander boodskap inhou. “Ek sing dit definitief vir Heinrich, maar die liedjie is baie universeel. Dit is vir enigeen wat deur afstand geraak word, soos byvoorbeeld ouers wie se kinders ver weg en oorsee bly, of selfs vir iemand wat liefde soek en ʼn persoon mis wat hulle nog nie eens ken nie, maar hoop om eendag te ontmoet.”

Die titel “Ek bid vir jou” is ook vir Caroline-Grace baie betekenisvol omdat sy self dit ook baie belangrik ag om vir haar man te bid. “ʼn Mens besef nie altyd hoe belangrik dit is nie. Om te bid dra krag. Daar is situasies waarin jy as mens nie iets kan doen nie; dan is dit net die Here se krag wat kan help,” het sy gesê.

Caroline-Grace is tans besig om ʼn volledige album op te neem. Die opname behoort einde volgende week klaar te wees. Die CD en sal na verwagting teen die einde September op die winkelrakke pryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Susan ·

Gaan beslis jou cd koop Caroline , die mooi mens met die goue stem .

Babs Brouwer ·

Jy is innerlik ‘n pragtige mens, jy sing pragtig, en jy sal ‘n pragtige toekoms hê.

Nico ·

Dit is ‘n baie mooi song. Ek is impress, welgedaan. Hoop jy gaan nog baie sukses behaal.

Elsa ·

Wenner….wenner. .. pragtig. Uit die hart. Ek gaan n cd koop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.