Video: Topkunstenaars wil inspireer met bekende lied

Robbie Wessels, Leah, André Schwartz, Willem Botha, Reynardt Hugo, Lee Scott, Bianca le Grange en David Johnson het kragte saam met CO Productions gesnoer en elkeen afsonderlike dele vanuit ʼn inspirerende liedjie opgeneem wat verwerk is vir ʼn musiekvideo.

Die video, waarin “From Now On” vanuit die bekroonde film, The Greatest Showman, vertolk word, is in isolasie opgeneem en verwerk en is vandag (Donderdag) eerste op Maroela Media te sien.

Die doel van die lied is om aanhangers te inspireer terwyl die donker koronavirus-wolk van die Covid-19-pandemie oor die wêreld hang.

“Dit is ʼn uitdagende tydperk vir ons almal en die vermaaklikheidsbedryf word net so hard getref deur die koronavirus en die sosiale beperkings wat dit tot gevolg het,” sê Corné Oosthuizen, stigter en besturende direkteur van CO Productions.

“Ons het egter ʼn keuse oor hoe dit ons emosioneel gaan raak en met dié projek wou CO Productions se kunstenaars hul aanhangers motiveer en die boodskap oordra dat ons almal hierdeur sal kom.”

Volgens Oosthuizen wou die kunstenaars, wat reeds ʼn lang pad onder die bestuur van CO Productions saamstap, juis iets doen om aanhangers én mekaar gesamentlik te bemoedig.

“Dit was omtrent ʼn uitdaging om dié video op te neem, want ʼn mens is so gewoond aan jou medekunstenaars saam met jou in die ateljee of op die verhoog,” sê Robbie Wessels.

Volgens die sanger leer almal in dié stadium iets van hulself. “Ek hoop almal kry die kans, al is die omstandighede moeilik, om iets verrykends te doen sodat hierdie tydperk ook iets positiefs aan almal oplewer.”

“Hierdie liedjie is een van my gunstelinge en die boodskappe wat jy daaruit kan neem, is so belangrik,” sê Willem Botha, wat ook die video geredigeer het.

“In hierdie tyd is die Here ons Rots en Hy moet ons Steunpilaar bly. Almal se uitdagings gedurende dié tyd verskil en ons moet dit respekteer en bly bid.”

André Schwartz sê die belangrikste gedurende dié tye is om soveel moontlik te doen wat jou gelukkig maak. “Ek hou van sing en veral saam met maatjies! Ek hoop almal geniet die video,” sê hy.

Vir Lee Scott is daar vir elkeen ʼn boodskap in hierdie liedjie. “As ek moet beskryf hoe ek gevoel het toe ek my gedeeltes opgeneem het, kan ek drie woorde gebruik: geïnspireerd, bemagtig en gemotiveerd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.