Video: Valeska Muller stel nuwe danssnit vry

Valeska Muller is een van daardie kunstenaars met ʼn unieke stem en musiekstyl wat jou aandag trek en in jou kop bly vassteek lank nadat jy haar sien optree het. Dit is ook hierdie eienskappe wat haar jongste enkelsnitvrystelling so aanloklik maak.

“Verdwaal saam met jou” is ʼn moderne popmusiekverwerking wat selfs die kritieste oor sal beïndruk. Hierdie opgewekte dansnommer, wat sy saam met Tertius Jacobs en Sean Butler geskryf het, gaan daaroor om weg te breek van die stad se geraas en tyd deur te bring saam met die persoon vir wie jy lief is.

“Dit het ʼn goeie boodskap en lekker gees. Jy kan dans daarop, of net rustig na die liedjie sit en luister. Enigiemand wat van moderne popmusiek hou, sal aanklank vind en moet dit hoor,” verklap Muller oor haar sesde enkelsnitvrystelling.

“‘Verdwaal saam met jou’ beteken baie vir my, want ek assosieer met my musiek en kry nou die geleentheid om dit met die wêreld te deel. Ek is gelukkig om betekenisvolle lirieke te kan skryf waarop ek trots is. Die klank is nuut en vars op mense se oor, so ek glo hulle sal daarvan hou.”

Die sangeres en liedjieskrywer het ook onlangs ʼn musiekvideo van dié lied opgeneem by Estate D’Afrique in Hartbeespoortdam. Sy en Nic Billington, wat die regie van die video hanteer het, het saamgewerk aan die konsep, terwyl Hannelie Burger omgesien het na die skoonheidsaspekte en Dane Hildebrandt die manlike hoofrol gespeel het.

“Die lied handel oor passievolle liefde en ek wou dit in die video vasvang. Ek wil verdwaal saam met die man van my drome, ek wil net wegraak vir ’n oomblik, sonder al die stres en geraas van mense wat ons pla. Tog iewers in ons impulsiewe avontuur van verlorenheid en rigtingloosheid, kom ek by my bestemming uit. In sy liefdevolle arms en oë vind ek myself, wat duidelik in die video vertolk word,” vertel sy opgewonde.

Die musikant, wat al negentien jaar in die musiekbedryf werk, sonder haar deelname aan die musiekrealiteitsprogram, Zing, uit as een van die hoogtepunte van haar loopbaan en meen dat haar plek in die top-7 van dié kompetisie vir haar baie deure oopgemaak het.

Sedertdien het sy al hoofrolle gehad in verskeie verhoogproduksies, soos Richard Loring se Girl Talk, Sonsak Jolyt, Dance Mania, The Seven Wonders Show, The Awesome 80’s Show en The Lets Twist Again Show. Sy is ook ’n bekende gesig op die kassie en het al in verskeie advertensies en programme soos Generations, Roer Jou Voete, One Way en Binnelanders gespeel. Een van haar liedjies is ook gebruik as die temalied van die program, ’n Ster Vir My Bed, op VIA.

Die kunstenaar hou van ’n wye verskeidenheid musiek en luister al van jongs af na haar pa se langspeelplate. “Ritme en melodie inspireer my. Daar is so baie verskillende style en kunstenaars waarna ek luister, maar soms vind ek inspirasie in die sang van ’n voëltjie of die ritme van die reën. Ek sal graag nog eendag saam met musikante soos Max Martin en Sia wil werk,” vertel sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Daan ·

Daar is ‘n reuse probleem met Afrikaanse musiek. Daar is regtig te veel regtig goeie kunstenaars. Daar is mense wat sê ons het elke week ‘n nuwe Superster. Ons het natuurlik net elke 2 de week een. Hoe hartseer dit ook al is, daar is nie plek vir almal nie. Daar val baie uitstekende sanngers uit die stelsel uit. Ons mark is net te klein.

Internasionaal ·

Daar is oorgenoeg plek as kunstenaars en ander sakemense beide vir die SA mark en vir oorsese markte liedjies en watookal ander produkte produseer. Die goeie dimg van Afrikaanse mark is dat dit n ondeurdringbare nis is vir buite kompetisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.