Video: Zybrandt op ʼn ‘storieboek-avontuur’

Zybrandt. (Foto: Verskaf)

Zybrandt se tweede Afrikaanse enkelsnit, “Kamoefleer”, is pas saam met ʼn splinternuwe musiekvideo uitgereik.

“Dis belangrik om so nou en dan terug te staan en perspektief oor jou eie lewe te kry,” sê Zybrandt oor die tema van die liedjie.

“Die klein takies en gevoelens van elke dag se lewe vorm klein partikels wat om ons wentel. Die energie verskil van mens tot mens en bots heeltyd. So aanhoudend en amper onbewustelik dat dit spanning veroorsaak wat begin deel vorm van ons daaglikse roetine.

“Dis onmoontlik om die beste padkaart vorentoe te teken deur in die straat te staan. Soms moet jy ook van bo af daarna kyk.”

Jeremy Farber van For Tomorrow Productions het die musiekvideo vir “Kamoefleer” gemaak. Die video is ʼn storieboek-avontuur wat bestaan uit ʼn kombinasie van digitale tekeninge, videomateriaal en geanimeerde prentjies.

“Die tekeninge is op ʼn iPad gedoen. Elke toneel is verdeel in ʼn voor-, middel- en agtergrond om sodoende te kan werk met verskillende fokuspunte en effekte. Ons het al Zybrandt se tonele in verskillende uitrustings voor ʼn wit muur geskiet.

“Sy karakter is toe met redigering in die tonele ingesny om ʼn lekker fotoboek-gevoel te skep. Die video het drie maande geneem om te maak en dit bestaan uit 19 tonele, agt uitrustings en meer as 150 illustrasies,” verduidelik Farber hoe alles bymekaargekom het.

Zybrandt het vroeër aan Maroela Media gesê hy het op skool begin musiek maak en het as kind reeds klavier en kitaar gespeel.

“Op 15 het ek my eerste elektriese kitaar gekry, maar ek het altyd gedink dit is net die cool ouens wat in bands kan speel.”

Hy het egter later sy skaamte in sy sak gesteek en uiteindelik in drie groepe, genaamd Velve, Downonthefirst en December Lanterns, gespeel. Hy het uiteindelik besluit die tyd is reg om Afrikaanse musiek ʼn kans te gee.

Zybrandt se debuutenkelsnit, “Anders”, is vroeër vanjaar uitgereik en het Afrikaanse musiekliefhebbers se aandag getrek.

Dié liedjie het onder meer die no. 2-posisie op JacarandaFM se SA Top-20 gehaal en kan ook gehoor word op Bok Radio, GrootFM, IFM en vele ander bekende radiostasies.

“Die terugvoer oor ‘Anders’ het my verwagtinge oortref. Ek is opgewonde om ‘Kamoefleer’ nou ook bekend te stel en sien uit om te hoor wat mense daarvan dink.”

“Anders” en “Kamoefleer” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Kamoefleer”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.