Vier Biltong-fees met room van Afrikaanse musiek

Juanita du Plessis (Foto: Facebook)

Musiekliefhebbers kan eersdaags weer hul gunsteling-sangers in lewende lywe sien, eerder as tydens ’n regstreekse uitsending op die internet.

Die dae toe kunstenaars weens die Covid-19-pandemie, hul selfone in hul sitkamers moes staanmaak om konsert te hou, is nou vir eers verby.

Die twee dag lange Bok Radio Biltong-fees wat op 4 en 5 Desember regstreeks by Sandringham Farm buite Stellenbosch plaasvind, is ongetwyfeld ʼn hoogtepunt op vanjaar se kultuurkalender en bied uitgehongerde kunstenaars die geleentheid om weer ten aanskoue van ʼn gehoor hul talent ten toon te stel.

Die koningin van Afrikaanse musiek, Juanita du Plessis, en die bekroonde immergewilde sanger Kurt Darren is van die 12 kunstenaars wat vir die vermaak sorg.

Kurt Darren. (Foto: Maroela Media)

Van die ander kunstenaars wat reeds bevestig is, is Jay, Juan Boucher, Bernice West en die 1925-band.

Posduif, Die Broers, Mark Haze, Deon Groot, Wikus Botma en Jan Rhaap is ook op die verhoog te sien.

“Met hierdie tradisionele manier van musiek lewer aan ’n beperkte gehoor sal die massas in toom gehou word en mag uitbundigheid slegs binne die reëls en regulasies van Covid-19 en die veiligheidswagte aan diens geskied,” sê Wimpie van der Sandt, uitvoerende hoof van Bok Radio.

“Ons is ook dankbaar vir ons vervoerborg, die laekoste-lugdiens, LIFT, wat ingestem het om die kunstenaars te vervoer,” sê Van der Sandt.

Die fees, waar die gehoor nie geneë gaan wees met stilsit nie, beloof nie net die beste talent in die bedryf nie, maar ook sakpaspryse. Toegang is R380 per persoon.

Die Biltong-fees is geskoei op die Biltong Sessie-inisiatief van Bok Radio waartydens 57 aanlyn konserte deur die optieseveselkabels van meer as 400 000 kykers geblits het.

Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor die kaartjies.

Juan Boucher (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.