Vier Moedersdag met klassieke konsert, kamerkoorfees

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

Wonder jy nog hoe jy die ma of ouma in jou lewe vanjaar op Moedersdag kan bederf? Dan is Aardklop Aubade se klassieke konsert met die pianis Charl du Plessis en Vox Chamber Choir se kamerkoorfees beslis iets om te oorweeg.

Op Sondag 8 Mei om 11:00 is Du Plessis by Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria te sien by dié uitvoering wat deur Aardklop Aubade aangebied word.

Du Plessis vier hierdie jaar Moedersdag met ʼn baie persoonlike en sentimentele keur van musiek wat hom na aan die hart lê. Die program is beïnvloed deur die plateversameling in sy ouerhuis, met musiek van JS Bach en Franse sangstukke deur Michel Legrand, asook komposisies deur Fats Waller en Chopin.

Met Songs for my Mother deel Du Plessis die omvang van sy ekspressiewe vaardighede deur musikale tradisie en sy unieke pianistiese uitdrukkings saam te span om gehoorlede en musiekliefhebbers te verras en in vervoering te laat.

Hierdie program word opgedra aan moeders reg oor die wêreld om die belangrike rol van musiek in die grootwordjare te illustreer.

Kaartjies vir die vertoning kos R190 en R150 en kan by Ticketpro bespreek word. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor die Aardklop Aubade-konsertreeks.

Die Vox-kamerkoor se spesiale Moedersdag-kamerkoorfees vind op Sondag 8 Mei om 13:00 by NG Kerk Universiteitsoord in Pretoria plaas.

Vox-kamerkoor is die koor wat begin is deur Franco Prinsloo, pasaangestelde koordirigent van Akademia. (Foto: Vox Chamber Choir/Facebook)

In samewerking met die Akademia Koor, Quava Vocal Group van Johannesburg, Rheinberger-Kamerkoor van Kempton Park, Unison Voices van Pretoria, asook Horizons Project-koor van Pretoria, beloof dit om ʼn musikale ervaring soos min te wees.

Die konsert word geopen met ʼn luisterryke orrel- en kooruitvoering onder leiding van Franco Prinsloo. In dié openingslied begelei Prinsloo die Vox Chamber Choir in ʼn uitvoering van sy verwerking van “The Magnificat”, oftewel “Die loflied van Maria”. Daarna volg ʼn verskeidenheid repertoires deur die kore met enigiets van klassieke uitvoerings tot kontemporêre musiek.

Daar sal ook ʼn verskeidenheid stalletjies wees waar mense eet- en drinkgoed, wyn, geskenke en blomme kan koop. Mense wat beplan om die geleentheid by te woon word aangemoedig om kaartjies aanlyn te koop en betyds hulle versnaperings te koop en geniet, aangesien geen eet- en drinkgoed in die kerk toegelaat word nie.

Kaartjies vir die fees kos R150 (by die deur) en R120 (aanlyn kaartjies) en kan by Tixsa bespreek word. Stuur ʼn boodskap op Facebook vir meer inligting oor Vox Chamber Choir se Moedersdag-kamerkoorfees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.