Vir jou gemaak – Adam

Dit is nou omtrent twee jaar sedert Adam se eerste CD vrygestel is, en ‘n mens kon sommer van die begin af agterkom dat hulle een van die mees talentvolle groeepe op die Afrikaanse musiektoneel is.

Hul tweede album, Vir jou gemaak, is intussen vrygestel, en het al ‘n paar treffers opgelewer. Die eerste een, Kasteel, is geïnspireer deur Reynadrt Hugo (wat ook die rol van dr. Tertius Jonker in Binneland vertolk) se liefde vir die fitkiewe karakter Harry Potter.  Hy het die liedjie saam met Hugo Ludik en Robin Kielly geskryf. Daar is baie moeite met die musiekvideo gedoen; dit is by Melrose Arch in Johannesburg verfilm, en daar word vertel dat hulle spesiale toestemming kry om dit laat in die aand te doen. Amaila Uys, wat die rol van San-Mari in 7de Laan vertolk het, is in die video te sien; sy is in ‘n verhouding met Hugo se broer, Stefan, betrokke. Die volgende snit, Gebore om jou lief te hê, was die volgende treffer, en word nou nog gereeld oor die radio gehoor. Joe Foster was vir die woorde en musiek daarvan verantwoordelik.

Die volgende snit is ‘n hoogtepunt. Superman is die jonste treffer, en dis jammer dat ‘n musiekvideo daarvan nog nie gemaak nie.  Dit is egter een van die heel beste snitte op die album en behoort baie gewild te word. Hulle het die storie van die rolprentkarakter Superman baie slim by die liedjie ingewerk. Daarby is dit ‘n baie maklike wysie om saam te sing. Pasop het nog geen radiolugtyd gekry nie, maar weer eens is dit ‘n baie goeie snit. Die volgende snit is iets besonders. Johan C. Venter het Hart se volkslied  saam met Joe Foster geskryf, en die lirieke van ons land se voormalige volkslied, Die Stem, is slim ingewerk. Sommige mense sal dit dalk as omstrede beskou, maar dit verdien beslis om ‘n treffer te word. Toe seermaak nog liefde was is nie so ernstig as wat ‘n mens verwag nie; hierin sing hulle van ‘n verlange na ‘n liefde wat op skool ontwikkel het.  Joe Foster het die pragtige snit Hartklop gskryf; hierop wys hulle dat hulle nie net opgewekte liedjies kan sing nie.

Perfek vir my is nog ‘n snit wat al radiolugtyd gekry het, en ‘n mens kan verstaan hoekom.  Joe en Hugo het hierdie snit saam geskryf, en dit is ‘n lekker liedjie wat ‘n mens maklik sal kan saamsing.  Mooiste melodie is, soos hulle self  sê, ‘n langpadtreffer, en ‘n mens kan verstaan hoekom hulle so dink. Dit is ‘n snit waarna ‘n mens lekker kan luister as jy langpad ry en dit verdien beslis ook om ‘n treffer te word. Engele sing word opgedra aan diegene wat al iemand aan die dood afgestaan het, dit bewys dat hulle ook ernstig kan wees as hulle moet. Machiel Roets het dit geskryf; hy was ook onder meer verantwoordelik vir die musiek van die roplrent Pretville. Hugo het Hartlam geskryf; hierop klink hulle ‘n bietjie na Die Heuwels Fantasties. Hier is nog ‘n snit wat ‘n treffer behoort te word.  Die laaste snit is Ek is jammer, geskryf deur Rynhardt. Dit is ‘n pragtige snit, en die lirieke laat ‘n mens dink.

Dis maklik om te verstaan hoekom Adam die laaste tyd so gewild geword het. Daar kan geen twyfel bestaan oor hul talent nie, en dis ook goed om te sien dat hulle nie in dieselfde slaggate as ander kommersiële kunstenaars getrap het nie. Jy sal geen deurmekaar taalgebruik, nuwe opnames van bekende liedjies, oorsese melodieë met Afrikaanse lirieke of dieselfde klank oor en oor op hiedie album aantref nie. Hierdie album is ‘n bewys dat jy kommersieel kan wees sonder om musikale integriteit in te boet, en daarom kan dit baie sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.