Volmaakte klanke- James en André

 

Wanneer ‘n kunstenaar of groep ‘n album vrystel waarop hulde aan ‘n legendariese groep van die verlede gebring word, kry ‘n mens nie regtig ‘n idee van wat om van hulle te verwag nie.

James en André Swanepoel het met hul eerste album, Opgedra aan Groep 2, hulde aan een van die suksesvolste sangpare ooit gebring. Nou het hulle hul eerste oorspronklike album, Volmaakte klanke, vrygestel. Die titelsnit is hul eie komposisie, en as jy moedeloos voel, sal dit jou dalk beter laat voel. Katinka behoort ‘n treffer te word; soms moet ‘n mens nie te “slim” probeer wees om ‘n treffer te probeer skryf nie, soos hierdie redelik eenvoudige liedjie bewys. Liewe Kaapstad is nog een van hul eie komposisies, en veral diegene wat in Kaapstad gewoon het, sal hiervan hou. Kombuis is die eerste snit waarvan daar ‘n musiekvideo gemaak is; ‘n mens kan verstaan hoekom dit ‘n treffer is.

James en André sing en skryf egter nie net in Afrikaans nie; die volgende twee snitte, You make my world go round and round en My wife is oorspronklike Engelse komposisies. Laasgenoemde snit, waarvan die woorde deur Stefan Boshoff geskryf is, het ‘n effense country-klank. Hulle het selfs die ou treffer Antjies die rooibruin hen ingesluit, en dit klink baie goed. Nog ‘n verrassing is David Kramer se baie mooi Weeskind; hopelik sal hulle ook ‘n treffer daarmee hê. Ricus Nel se konsertinaspel op hierdie snit is iets besonders. In Skouspeltyd sing hulle van die grootste Afrikaanse musiekfees, wat elke jaar by Sun City gehou word. Dobie Gray het in die 1970’s ‘n groot treffer met Loving arms gehad, en hulle het ‘n mooi weergawe daarvan ingesluit. Lukas is ‘n huldeblyk aan die ontslape sanger en liedjieskrywer Lucas Maree, en daarop verwoord hulle baie mense se gevoelens oor dié legende van Afrikaanse musiek. Die laaste snit is ‘n keurspel wat bestaan uit I need more of you en If I said you had a beautiful body van The Bellamy Brothers, All I have to do is dream en Walk right back van The Everley Brothers, Mrs. Robison van Simon and Garfunkel en Slip slidin’ away van Paul Simon.

Daar was deur die jare al verskeie sangpare wat uit broers bestaan het en groot sukses behaal het, onder meer Herbie en Spence, Coleske, Christo en Cobus en Juba. James en André het die potensiaal om self gewild te word, solank hul musiek net gereelde radiolugtyd kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.