Vox-kamerkoor sing in parkade

Vox-kamerkoor is die koor wat begin is deur Franco Prinsloo, pasaangestelde koordirigent van Akademia. (Foto: Vox Chamber Choir/Facebook)

Vox Chamber Choir, onder leiding van die komponis en dirigent Franco Prinsloo, bied Saterdag ʼn unieke, multidissiplinêre konsert in Pretoria aan.

Die vertoning getiteld “Vuurbees” word bestempel as ʼn skeppende verkenningstog en pleit-item vir omgewingsbewaring. Dit is geïnspireer deur die gelyknamige en ikoniese gedig deur DJ Opperman.

Gehore kan hulself regmaak vir ʼn unieke konsert in die parkeerkelder van die King Price-gebou in Menlyn, Pretoria.

Volgens Prinsloo leen die akoestiek van dié spesifieke stedelike ruimte hom tot ʼn ryker luisterervaring, terwyl dit die gehoor terselfdertyd konfronteer met hoe buite voeling die mensdom met die natuur is.

Die nabootsing van ʼn post-apokaliptiese, ondergrondse bunker bied aan die gehoor die geleentheid om hulle in ʼn katastrofiese toekoms in te leef. Dit skep ook ʼn atmosfeer waarin gehoorlede oor hul optrede vir ʼn volhoubare toekoms kan nadink.

“Vuurbees” is saamgestel uit ʼn kombinasie van nuut-gekomponeerde koorwerke en video-installasiekuns deur die Suid-Afrikaanse kunstenaars Sonya Rademeyer, Griet van der Meulen, Willem van der Heever en André van Rensburg. Met hierdie samevoeging laat Prinsloo die soeklig val op die verwoestende uitwerking wat mense se optrede op die omgewing het.

Prinsloo se oorspronklike komposisies lig elkeen eietydse omgewingskwessies uit en dit verken die mens se invloed op die planeet. Die komposisies sluit in die verwerking van Opperman se “Vuurbees”, “Cradle Chant”, “Cantata ‘Modimo’” en “RED LIST: AB-AF”.

Die program word verder aangevul deur werke soos “Walvisnota” wat gebaseer is op die gedig van René Bohnen. In hierdie uitvoering word die koor se stemme doeltreffend aangewend om die klankkleur van walvissang uit te beeld.

Prinsloo se toonsetting van die bybelteks “Vox Clama Dicentis” uit Jesaja 40 vers 8 is ook deel van die program en wys op die vlietende aard van die lewe, soos die teks lui: “Dit ís so, die volk is soos gras. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.”

Ten einde die koor se pleit-item harder te laat weerklink, het Vox Chamber Choir met twee plaaslike nie-winsgewende organisasies, die Mabula Ground Hornbill Project en die Little Rhino Orphanage kragte saamgesnoer.

“Deur ons vennootskap met hierdie organisasies hoop die Vox Chamber Choir om hulle te ondersteun en meer mense van hulle bewus te maak,” sê Prinsloo.

Die gehoor sal tydens die vertoning die geleentheid kry om skenkings aan albei organisasies te maak. Die Vox Chamber Choir skenk verder 10% van alle kaartjieverkope aan die Little Rhino Orphanage en die Mabula Ground Hornbill Project.

Klik hier om kaartjies vir Vox Chamber Choir se konsert op 31 Oktober te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.