Vox-kamerkoor vier lente met konsert

Vox-kamerkoor is die koor wat begin is deur Franco Prinsloo, pasaangestelde koordirigent van Akademia. (Foto: Vox Chamber Choir/Facebook)

In die woorde van NP van Wyk Louw is “daar ʼn geur van lente in die lug”.

Op Sondag 19 September kan ʼn gehoor nie net die lentegeure ervaar nie, maar ook regskuif vir die Vox-kamerkoor se lentekonsert in die majestueuse Heldesaal van die Voortrekkermonument (VTM).

Vox-kamerkoor is die koor wat begin is deur Franco Prinsloo, pasaangestelde koordirigent van Akademia.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor die uitvoering. Die monument se akoestiek is geweldig indrukwekkend; amper groter as ʼn katedraal sʼn,” sê Prinsloo.

Die konsert is saamgestel uit vele eerste uitvoerings, waaronder Prinsloo se verwerking van “Vox Dicentis: Clama” (Gras verdor en blomme verwelk, maar die stem van God bly tot in ewigheid), “Ave Verum Corpus” (Gegroet, die Ware Liggaam gebore uit die maagd Maria), “Stilgebed”, “Mag die pad jou weer lei” van Breyten Breytenbach, asook twee dele uit Prinsloo se nuut gekomponeerde Afrikaanse Kersoratorium, Lig van waarheid.

Vox het in Maart vanjaar Prinsloo se Paasoratorium, Kruis van liefde, in samewerking met RSG uitgesaai en een van die bewegings, “Vroue van Jerusalem”, word tydens die lentekonsert weer aangebied.

Die Vox-kamerkoor is in 2017 deur Prinsloo gestig met die doel om ʼn platform te skep waar hy sy eie komposisies kan uitvoer en opneem. Die koor het met agt sangers begin en het sedertdien aanhou groei, verskeie albums die lig laat sien en selfs in 2018 ʼn draai by die Wêreldkoorspele gemaak wat op eie bodem aangebied is. Die koor het ʼn goue medalje in die kategorie vir eietydse klassieke musiek gewen.

Die koor is tans besig om borge te soek sodat hulle vroeg in Desember die volledige Kersoratorium kan opneem en uitvoer. Die libretto vir hierdie splinternuwe Kersoratorium is deur Prinsloo en die bariton Christopher Vale saamgestel, met liedtekste uit die Halleluja-sangbundel van 1965 en die Koraalboek van 1956. Die teks van resitatiewe is uit die Evangelie van Lukas geneem en kom uit die 1953-vertaling van die Afrikaanse Bybel.

Kaartjies vir Sondag se lentekonsert kos R150 per persoon en kan aanlyn by Tixsa of by die deur gekoop word. Die konsert begin om 15:00 en gaste kan vooraf ʼn glas wyn geniet. Die opbrengs is ten bate van die Voortrekkermonument. Vir meer inligting kontak Franco Prinsloo by 082 710 6426 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Luister hier na ʼn voorskou van “Mag die pad jou weer lei”, wat ook op Sondag se program is:

[TEASER – MAG DIE PAD JOU WEER LEI]Here is a little teaser for you of "Mag die pad jou weer lei", composed by our conductor, Franco Prinsloo.The single will be released on all major digital streaming platforms THIS THURSDAY! #excitedYou can also hear this piece LIVE this coming Sunday at our "Vox Chamber Choir Lentekonsert" at the Voortrekkermonument at 15:00. Have you bought your tickets yet?Ticket link at Tixsa: https://tickets.tixsa.co.za/event/vox-chamber-choir-lente-konsert#Viva_La_Vox #Voxies #Single #Release #Spring #Composer #conductor #choir #Vox_Men #singing #New_Music #men #bass #tenor #baritone #piano #recording #Thursday #art #Producer #music #album #cover #Vox_Tribe #Vox_Family #Concert

Posted by Vox Chamber Choir on Monday, September 13, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.