Vox Novus: ’n nuwe stem in Pretoria

franco-prinsloo

Franco Prinsloo. Foto: Verskaf

Vox Novus is ʼn splinternuwe Pretoriase koor-ensemble wat deur die komponis en dirigent Franco Prinsloo op die been gebring is.

Die ensemble stel vandeesmaand hul konsertreeks getiteld Magnificat. Miserere. O Salutaris in dié hoofstad bekend.

Die ensemble fokus op die vervaardiging van hoëkwaliteitvertonings en opnames van Prinsloo se eie koorkomposisies, maar stel ook werke deur ander Suid-Afrikaanse komponiste soos Zander Fick en Pieter Bezuidenhout ten toon.

“Ons doel is om oorspronklike kontemporêre komposisies op ʼn vars, innoverende manier meer toeganklik te maak vir almal,” sê Prinsloo. “Ek het ʼn spesiale, uitgesoekte ensemble geskep wat as ʼn instrument kan dien om ons musiek lewe te gee.”

ʼn Verskeidenheid werke word vertoon, wat wissel van tegnies-uitdagende stukke soos Magnificat tot die mooiste toonsetting van Afrikaanse liefdesgedigte deur digters soos NP van Wyk Louw en Breyten Breytenbach.

“Pretoria is ryk met innoverende, jong komponiste. Net soos die klassieke meesters het ons gehore nodig om die inisiatief te ondersteun sodat die skepping van nuwe musikale kuns ‘n groeiende bedryf kan bly,” sê Prinsloo.

Die konsertreeks sal ook deel vorm van Vox Novus se voorbereiding vir die Wêreld Koorspele wat in Julie 2018 in Pretoria aangebied word. “Ons sal seker maak dat die Suid-Afrikaanse musiek goed verteenwoordig word tydens die kompetisie, en neem deel in twee van die ensemble-kategorieë.”

Die ensemble is op die volgende datums in Pretoria te sien:
12 Oktober 19:00 by die Nazareth House-kapel
22 Oktober 14:30 by die Nazareth House-kapel

Kaartjies is beskikbaar by Tixsa en kos R100,00 per persoon.

Vir meer inligting, kontak Andries Brummer by [email protected] of Franco Prinsloo by 082 710 6426.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.