Vrouestemme span saam vir liedjie teen geslagsgeweld

“My Body” is ʼn bekende opvoedkundige liedjie wat in 1983 deur die sielkundige Peter Alsop geskryf is en is vir kinders in skole wêreldwyd geleer as deel van ʼn voorkomingsprogram teen seksuele misdaad.

Die sangeres Lira, Juliet Harding van die groep GoodLuck, Mariechan, voormalige lid van die popgroep Jamali, en Gigi Lamayne het nou vir dié liedjie ʼn nuwe baadjie aangetrek om geld in te samel vir die stryd teen geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika.

“My Body (Stand Up)” is uitgereik in die lig van die jaarlikse wêreldwye veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders wat duur tot en met internasionale menseregtedag op 10 Desember.

Alle opbrengste deur die stroming van die liedjie word deur die versekeringsmaatskappy 1st for Women se stigting aangewend vir die volgehoue stryd om vrouemishandeling te beëindig.

Lira met een van haar SAMA-beeldjies. (Foto: Facebook)

“Ons het nuwe lewe in ‘My Body’ geblaas as ʼn inspirerende, opvoedkundige en vermaaklike liedjie met ʼn sterk beroep op aksie,” sê Casey Rousseau.

“Musiek het die vermoë om houdings en oortuigings te verander. Die liedjie moedig vroue aan om op te staan, hand aan hand, en uitgesproke te wees teen mishandeling. Dit moedig mans en seuns aan om dieselfde te doen en vroue eerste te stel – nee beteken nee.”

Die verwerkte liedjie is gekonsepsualiseer deur Mike Sharman van Retroviral en gekomponeer deur Chris Snyman en Garth Barnes. Die liedjie is vervaardig deur TigerFight namens 1st for Women. Die musiekvideo is vervaardig deur 10th Street en Alison Martin het die regie behartig.

“Die belangrikste gereedskap waaroor ek beskik is my stem en ek is opgewonde om my stem aan hierdie saak te verleen. Ons het almal ʼn verantwoordelikheid om iets te doen aan vrouemishandeling en ek doen ʼn beroep op mans om na ons om te sien – en op vroue om hulle stemme te verhef,” sê Lira.

“My Body (Stand Up)” is beskikbaar op alle digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.