Vrystaat vier die kunste

Die Vrystaat Kunstefees vind van 2 tot 8 Oktober plaas. (Foto: Facebook/Vrystaat Kunstefees)

Ná ʼn suksesvolle Mini-MARK wat op die Bloemfonteinse kampus van die Universiteit van die Vrystaat plaasgevind het, is die span van die Vrystaat Kunstefees slaggereed om in Oktober ʼn groter fees aan te bied.

Die Vrystaat Kunstefees is ’n Afrikaanse taalfees, wat ook kreatiewe verbintenisse met Sesotho en Engelse kulture, asook nasionale en internasionale kreatiewe skeppendes, smee.

Die fees bied jaarliks ’n enorme artistieke aanbod, van vlagskip-teater-, dans-, en musiekproduksies in Afrikaans, Engels en Sesotho tot literatuur, kunsvlyt, klankkuns, en visuele en eksperimentele kuns.

Die Vrystaat Kunstefees is deesdae een van die belangrikste kunstefeeste op die Afrika-vasteland en bied ’n groot verskeidenheid nasionale en internasionale produksies en projekte aan.

Drama en teater

Nicole Holm is te sien in ‘Tweespoor’. (Foto: Facebook/Vrystaat Kunstefees)

Hans steek die Rubicon oor bied aan teatergangers hoogs komiese drama oor oudword. Hierdie komedie, gebaseer op Rudie van Rensburg se gelyknamige roman en met Charlie Bouguenon in die hoofrol, beloof om pret vir alle ouderdomme te wees.

Elzabé Zietsman vertolk ’n sleutelrol in die sielkundige riller Tom gaan plaas toe, waarin ’n familie se disfunksionele verhoudings en ʼn nalatenskap van leuens en traumas ondersoek word.

Albei dié stukke word goedgunstiglik ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi).

Die Vlaamse regering in Suider-Afrika ondersteun die vertoning And still the rain kept falling softly … ruimhartig. Die stuk is uit die pen van die Vlaamse skrywer, toneelspeler en teatermaker, Peter de Graef, terwyl Stef de Paepe, Vlaamse dramaturg en draaiboekskrywer, as die regisseur optree.

Gerben Kamper en Peter Taljaard is verantwoordelik vir die vertaling van die teks, met John Paka en Boitumelo Mohutsioa in die rolverdeling.

Bekende Bloemfonteinse teatermaker, skrywer en regisseur Nico Luwes bring vanjaar twee produksies na die Vrystaat Kunstefees.

Die ernstige Aku vang ’n ster is ’n spanningsdrama wat in die onherbergsame Noord-Kaap afspeel. Daarteenoor vertel Waaihoek se Vinkel en Koljander – ʼn musikale klug – die verhaal van tweelingbroers Koljander en Vinkel, wat as sesjariges per ongeluk in die Kaap geskei word.

Musiek

’n Absolute hoogtepunt op die musiekprogram is DROOMLAND. DuPreez Strauss tree reeds die afgelope twaalf jaar as medemusiekregisseur en orkesdirigent vir Disney se The Lion King-musiekblyspel op.

Beleef in DROOMLAND jou gunstelingkinderherinneringe, nuutgemaak met klavierinterpretasies en Afrikaanse storievertellings. Hierdie kontemporêre musiekblyspel is familievermaak vir alle ouderdomme.

’n Volgende hoogtepunt is ʼn opvoering deur Dan Patlansky, wat terugkeer om Suid-Afrikaanse gehore met ’n elektriese volorkes te vermaak. In hierdie aanbieding bied Patlansky ’n moderne kinkel op dit waarvoor hy die liefste is: blues-musiek.

Vanjaar bied die Vrystaat Kunstefees ’n nuutgeskepte Blêrkas aan, op die rooibaksteen-parkeerterrein agter die Odeion-teater. Die Blêrkas speel vanjaar gasheer vir ’n wye verskeidenheid opwindende plaaslike en nasionale musikante, onder meer The Mojo Hands, Liv Die, Safety First, Belinda van Zee & Amy Aldeia, Rise in Red, Black Cat Bones, Van Pletzen, Francois van Coke, Angie Oeh, en Bouwer Bosch.

Visuele kuns

Twee treffende, dog uiteenlopende visuele kunsuitstallings, is Pitika Ntuli se baanbreker-solo-uitstalling Azibuyele Emasisweni (Return to the Source) en Taalgenoot en André Badenhorst se foto-uitstalling.

In Azibuyele Emasisweni, wat by Oliewenhuis‑kunsmuseum te besigtig is, maak Ntuli gebruik van 45 beeldhouwerke van been om “die toestand van die nasie in ’n seisoen van wetteloosheid te voorspel”.

Daarteenoor stel die Taalgenoot en André Badenhorst se foto-uitstalling ’n verskeidenheid gedrukte voorbladfoto’s, asook foto’s uit fotoverhale, in die foyer van die ATKV-Boeke-oase ten toon. Hierdie foto’s verskyn sedert 2016 in die bekroonde tydskrif en sluit werke van onder meer Bibi Slippers, Gerald Rudolf en Rayton Rodeo in.

Literatuur

Die Vrystaat Literatuurfees bars weer vanjaar uit sy nate met van die voorste Bloemfonteinse en Suid-Afrikaanse skrywers en digters op die program. Skrywers om na uit te sien, is Dianne du Toit Albertze, Annerle Barnard, Hannes Barnard, Zelda Bezuidenhout, Susan Coetzer, Pieter Fourie, Herman Lategan, Maretha Maartens, SJ Naudé, Elias P Nel, Zarine Roodt, Madelein Rust, Lindie Stander, Zirk van der Berg, Amos van der Westhuizen, Irma Venter, Fanie Viljoen, Adele Vorster en Chris Vorster.

Verskeie paneelgesprekke vorm deel van die program, onder meer die UV se jaarlikse Denkleier-gesprek wat vanjaar deur Pieter du Toit gefasiliteer word. Turksvy Publikasies (Hannes Visser, Marlene Malan en Daniel Hugo) bied ʼn interaktiewe werkswinkel oor twee dae aan, genaamd die Turksvy‑skryfskool vir skrywersontwikkeling.

Die Hulde aan Helde-reeks word weer by die Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum (NALN) aangebied en huldig vanjaar vir Jaap Steyn, Anna M Louw en Elsa Joubert. Die altyd gewilde Ruda-om-11-reeks, met bekroonde joernalis Ruda Landman, is ook terug. Landman gesels met onder meer Max du Preez, Charné Kemp en Julian Jansen.

Die De Schrijverswerf-projek beoog om ’n gemeenskap van skrywers, digters en teatermakers te vestig wat deur hul taal verbonde is aan die Nederlandstalige gemeenskap. Hierdie taalgemeenskaplikheid sluit deelnemers van Nederland, Vlaandere, Suriname en Suid-Afrika in.

Vier opwindende projekuitsette, naamlik ʼn Briefwisseling/Letter Exchange, ’n musikale intervensie genaamd Wiegeliedjies, Volksverhale, Kinderliedjies en Kleuterversies, ʼn visuele kunsuitstalling Tussen media, over talen heen wat ʼn treffende aanbieding van poësie op skilderdoek betrek, en laastens ’n weeklange skrywerslaboratorium, Schrijvers-Zwervers, met die finale produk wat op die laaste dag van die fees voorgedra sal word.

Projekvennote van De Schrijverswerf is onder meer Die Nederlandse Taalunie in Nederland, Vlaandere en Suriname, en die Vlaamse Regering in Suider-Afrika.

Besoek die Vrystaat Kunstefees se webblad by www.vrystaatkunstefees.co.za om die feesprogram te sien. Toegangskaartjies tot die feesterrein en teateraanbiedinge is reeds by Webtickets te koop.

Vir meer inligting oor vanjaar se Vrystaat Kunstefees, stuur gerus ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.