Vyf topkunstenaars Dinsdag by monument te sien

Ricus Nel is deel van die eerste Sing Hoop Weerklink-konsert van Solidariteit Helpende Hand. (Foto: Verskaf)

Die tyd raak min om kaartjies te bespreek vir ʼn Afrikaanse konsert waar sangers soos Demi Lee Moore, Mathys Roets en Ricus Nel die verhoog gaan deel ten bate van mense met gestremdhede.

Die SING, HOOP, WEERKLINK-konsert is die eerste van sy soort en word op 30 November deur Solidariteit Helpende Hand in Pretoria aangebied, asook regstreeks op aanlyn platforms uitgesaai.

Vernon Barnard gaan saam met Moore, Roets en Nel by die geleentheid optree, en Drihan du Plessis – ʼn sanger, argitek en liedjieskrywer uit wie se droom dié konsert voortgespruit het – sal ook sy lied “Sing, Hoop, Weerklink” tydens die geleentheid bekendstel.

Volgens Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke, word die konsert aangebied om gemeenskappe saam te bring, bewusmaking van mense met gestremdhede te skep en die boodskap oor te dra dat mense met gestremdhede waardige burgers van die samelewing is, al het hulle sekere spesiale behoeftes.

“Ondanks ʼn aangepaste leefstyl waarin mense met gestremdhede hulself bevind, veg hulle daagliks dapper voort. Hulle hou moed, gee pas en loop voor. Dit is die inspirasie wanneer ons as dikwels gesonde mense ook weens ons eie uitdagende omstandighede in ʼn aangepaste wêreld moet oorleef. Die boodskap wat almal by mense met gestremdhede kan leer, is: ‘As ons kan, kan jy ook!’” sê sy.

Daar is slegs ʼn beperkte aantal kaartjies vir die konsert by die Voortrekkermonument beskikbaar. Mense wat nie self daar kan wees nie, kan dit ook aanlyn kyk. Besoek www.weerklink.co.za vir meer inligting of om kaartjies te bespreek.

Kaartjies kos R130 vir volwassenes en R60 vir kinders tussen sewe en 12 jaar oud. Toegang vir kinders onder sewe is gratis. Kaartjies vir die aanlyn konsert beloop R50.

Helpende Hand bedank graag die borge wat hierdie geleentheid moontlik maak. Die hoofborge is Virseker en Dapper Media, asook Maroela Media, wat die mediavennoot vir die konsert is. Die ander borge is Yolande van der Westhuizen Oudioloë, Marius Prinsloo Ortotika en Prostetika en Monument Toyota Wes-Rand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.