Vyf vrae aan Jakkie Louw

jakkie-louw

Jakkie Louw. Foto: Facebook.

Jakkie Louw is ’n boerseun wat in Oudtshoorn gebore is en grootgeword het in Bellville.

Jakkie en sy band het in 1995-’96 deelgeneem aan die Bellville Battle of the Bands en sou  dit twee jaar agtereenvolgens wen.

In 1997 behaal hy matriek aan die DF Malan Hoërskool in Bellville. Hy het daarna BRek gaan studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Jakkie het begin sing in die kuierplekke op die Stellenbosch-kampus en het selfs die openingskonsert van die legendariese Bohemia pub op die hoek van Victoria- en Andringastraat aangebied. Liedjies soos “Bottel Tas” en “Rambo die Polisiehond” het hier ontstaan. In Jakkie se tweede jaar as BRek-student het hy saam met sy held Koos Kombuis gaan toer. Dit was vir Jakkie ’n “eye-opener”.

In 2002 verhuis Jakkie na sy nuwe tuiste, Pretoria, waar hy Donderdagaande by Maloney’s en Sondagaande by McGinty’s op Hatfield Square sou optree. Liedjies soos “Drie Pikkewyne” en “Die Hoendersong” het hier ontstaan.

Jakkie het in 2005 ’n groot platekontrak geteken en van daar af het hy oor die 180 konserte landwyd en toere na onder meer Engeland, Dubai en Australië onderneem. Hierdie immergroen studentesanger is al vir onder meer twee Sama-toekennings genomineer en is steeds vol bespreek met sy toere en konserte wat daagliks aan sy deur klop.

Volgende jaar sal Jakkie al twee dekades sing vir ’n lewe. Sy unieke dragkode met sy Jakkie Louw-hoed het ook nou al ’n mode geraak vir onder andere studente en enige Jakkie Louw-bewonderaar, jonk én oud.

“As jy van die liedjie hou, skreeu Jakkie Louw!! Jakkie Louw!!”

Vyf vrae aan Jakkie:

  1. Jakkie, jy is al lank in die musiekbedryf. Hoe dink jy het die bedryf en musiek verander oor die afgelope 10 jaar?

Ek dink die musiekbedryf het so 10 jaar terug “geboom”. Daarna het hy jaarliks kleiner geword. Dis nou baie moeiliker vir nuwe ouens om die bedryf te betree.

  1. Luister jy na enige internasionale kunstenaars vir inspirasie as jy skryf?

Ek luister vir seker na baie internasionale sangers. Country is altyd ’n goeie beginplek. Sting, die Dave Matthews band en Counting Crows help ook nogal.

  1. Is jy ooit spyt dat jy die Kaap vir Gauteng verruil het?

Ek is tans in die Kaap op toer en sal altyd ’n Kapenaar bly, maar ek het verlief geraak op Pretoria. Mense in die noorde is baie erg oor Afrikaanse musiek en ondersteun ons vreeslik baie. Kapenaars ondersteun ons ook, maar die teaters word net eenvoudig minder bygewoon in die Kaap. Die hele lewendige musiekbedryf is groter in die noorde as in die suide. Ek het nog nooit by ’n rugbywedstryd by Nuweland gejol nie. Loftus nooi hierdie Stormer gereeld om “Pikkewyne” te kom sing daar by hulle!

  1. Na wie kyk jy op in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf? Wie is jou inspirasie?

Ek’s mal oor Johannes Kerkorrel, Valiant, Koos, Lucas Maree, Chris Chameleon, Lise Beekman, Riku Latti, Gian Groen. Enigiets wat eg is, trek my aandag.

  1. Jy is een van die min kunstenaars wat verkies om met ’n orkes in lewende lywe te speel, hoekom?

Ons het goeie musikante daar buite wat sukkel om ’n bestaan te maak. Ek dink die gehore geniet ook ’n “lewendige orkes” meer. Dis ook natuurlik heerlik om ná ’n goeie optrede die aand saam met jou vriende in jou orkes te geniet … jy weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Mooi Karoo man met mooi maniere en ‘n pragtige stem. Een van my heel gunsteling sangers…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.