Waarvoor wag jy?- Mwah!

 

Deur die jare was daar al baie popgroepe wat net uit meisies bestaan het, onder meer  Destiny’s Child, The Bangles, Atomic Kitten en The Spice Girls.

In Suid-Afrika was daar nog net ‘n handjievol wat sukses behaal het, veral Clout en Shine 4. Laasgenoemde groep het egter vier jaar gelede ontbind, en sedertdien was daar nog nie ‘n meisiegroep wat hulle kon opvolg nie. Dit kan egter nou verander, want Mwah het pas hul eerste album, Waarvoor wag jy, vrygestel. Die groep bestaan uit Talana Vuren, Chané Brits en Loriska Bubb.

Die eerste snit, As die kat weg is, is ‘n komposisie van Waldo Greeff, en kan ‘n treffer word. Gee, gee, gee is die eerste enkelsnit vanaf die album en dit is ook die eerste snit waarvan daar ‘n musiekvideo gemaak is.  Die volgende snit het die interessante titel Sandra Prinsloo, sekerlik vernoem na die bekende aktrise, en die jong groep Elvis se seun sing saam met hulle. Dit klink baie goed, al is dit ‘n bietjie deur Duck Sauce se belaglike “treffer” Barbra Sterisand geïnspireer. Die “rap”-gedeeltesal veral by jonger luisteraars byval vind, maar daar is geen rede hoekom ‘n breë gehoor nie aanklank hierby kan vind nie. Die titelsnit is, soos die meeste snitte op die album, deur Hugo Ludik geskryf. Hugo is Stefan se broer en lid van die groep Adam. Weer eens is dit ‘n snit wat ‘n treffer kan word.  Die hele album was tot dusver heel opgewek, maar op Sterker, nog ‘n Hugo Ludik-komposisie, bewys hulle dat hulle ook rustiger musiek kan sing.  Koeëlvas is een van die snitte wat gerus oorweeg kan word as ‘n enkelsnit; dit is seker een van die beste snitte vanaf die album. Waldo Greeff en Hugo Ludik het saamgespan vir die volgende snit, Tien uit tien, nog ‘n moontlike treffer. Harte breek het al die trefferslyste van een of twee radiostasies gehaal, en dit is baie maklik om te verstaan. Dit is die tweede snit waarvan daar ‘n musiekvideo vervaardig is. Die lirieke is lekker hardekwas, en sal byval vind by enigiemand wat al deur ‘n “geliefde” teleurgestel is.

7de hemel is nog ‘n snit wat hul veelsydigheid bewys, terwyl Kom fix my die dansvloere vinnig vol sal kry. Handeklapdans gaan ‘n nuwe dansgier aan die gang kry, en daarom gaan dit ‘n baie groot treffer onder die jongklomp, en die jonges van gees, wees! Hier is ‘n snit waarvan daar ‘n musiekvideo gemaak MOET word! Ekke sou, die laaste snit op die album, is nog ‘n komposisie van Hugo Ludik wat radiolugtyd verdien.

Daar was al mense wat gedink het dat Mwah niks anders as ‘n tweede Ahine 4 is nie, en dat hulle daarom niks nuuts vir die Afrikaanse musiekbedryf bied nie. Dit is allesbehalwe die waarheid; hulle klink heeltemal anders, en hulle verdien erkenning vir die feit dat hulle met ‘n heeltemal oorspronklike CD vorendag gekom het. Daarteenoor het Shine 4 hier en daar gebruik gemaak van oorsese melodieë met Afrikaanse lirieke en ‘n aantal bekende liedjies opgeneem.  Daarom is hulle beter as Shine 4, en behoort hulle groot sukses te behaal. Hierdie CD is ook nie net op die jongklomp gemik nie; dit behoort by ‘n groot gehoor byval te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Hanlie Wessels ·

Sjoe wat n ouloke resensie!! Eks ook mal oor hulle musiek en elke liedjie op die abum is iets nuuts en special. Nes ek dink ekt n special liedjjie dan is die volgende ene ook mooi,, hulle gaan groot gaan en nog diep in. SA se harte inkruip,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.