Wals wals Willemien- Laurika Rauch

Wals wals WillemienDit is nou al vier jaar sedert Laurika Rauch se vorige album, Twee duisend en tien, vrygestel is.
Intussen was Laurika die heel tyd besig met vertonings, en haar twee treffers, Stuur groete aan Mannetjies Roux, het die eerste vyftig in Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie-veldtog gehaal. Kinders van die wind is trouens as die algehele gunsteling aangewys.
Nou is Laurika terug met haar jongste album, Wals wals Willemien. Die titelsnit is ‘n komposisie van Christoph Kotze, en volgens haar een van die sterkste snitte op die album. Laurika sing Die strome van die Drakensberge, nog ‘n moontlike treffer, saam met Elvis Blue. Laurika se man, Chris Torr, het dit saam met Elvis geskryf, en sy en Elvis gaan ook nou meer gereeld saam optree. Dit is ‘n uitgemaakte saak dat hierdie snit ‘n baie groot treffer gaan word; hoe kan dit dan anders met twee sulke talentvolle kunstenaars? Venette Rautenbach het die volgende snit, Bly nog so bietjie (ek mis jou) geskryf, en weer eens is dit ‘n moontlike treffer. Lize Beekman het een van Laurika se onlangse treffers, ‘n Sonneblom uit Bethlehem, geskryf, en hierdie keer het Lize twee snitte vir Laurika geskryf, naamlik Jy is hier geliefde my en een van die beste snitte op die hele album, Ewewig en stilte. Johan Oberholzer het Murg en been, wat Laurika as ‘n post-modernistiese snit beskryf, geskryf. Dit is ‘n besondere snit wat radio-lugtyd verdien.
Die eerste treffersnit, As ek eendag oud is, is deur Etienne Steyn geskryf. Toe Laurika haar versameling Die nuwe trefferalbum, vrygestel het, was ‘n komposisie van Etienne, naamlik Dis die storie van my hart, as ‘n nuwe snit daarop ingesluit. Etienne het intussen drie CD’s as sanger vrygestel. Hy het hierdie snit onder meer ook opgeneem, maar omdat dit nie ‘n treffer vir hom was, het Laurika dit opgeneem. Dit is darem net snaaks hoedat drie liedjies met baie dieselfde strekking baie na-aan mekaar uitgereik is; die ander twee is Toe ons jonk was van Elvis Blue en As vandag my laaste dag is van Juanita du Plessis. Hopelik sal dit die einde van “bokkie”- en “baby”-liedjies beteken. Christoph Kotze se tweede bydrae tot die album is Kaalvoet begin dans; hy het dit saam met die huidige leier van Noot vir noot se Musiekfabriek, Jaconell Mouton, geskryf. Laurika vertel dat sy die volgende snit, Ek en my klavier, al in haar besit gehad het voordat sy haar vorige album opgeneem het, en nie weet hoekom sy dit nou eers opgeneem het nie. Hoe ook al, dit is ‘n uitstekende snit wat verdien om ‘n treffer te word. Pieter Rademeyer het Liefde uit Stellenbosch al drie jaar gelede vir Laurika gestuur, en sy het besluit om dit op hierdie album in te sluit. Die enigste snit wat Chris Torr alleen geskryf het op hierdie album is Los en vas; nog ‘n moontlike treffer. Nog ‘n bydrae van Christoph Kotze is Waarheen gaan die tyd, my lam. Laurika sing Liefde is al wat ons het saam met Joe Niemand, en weer eens kan dit nie anders as om ‘n treffer te word nie.
Die laaste snit op die album is iets heeltemal anders. Laurika het Tom Waits se komposisie Kentucky Avenue opgeneem met niks anders as klavierbegeleiding deur Jaconell Mouton nie. Dit alleen maak dit al die moeite werd om na te luister, en herinner ‘n mens aan die tyd toe sy saam met die pianis Wessel van Wyk opgetree het.
As ‘n mens na hierdie album luister, raak jy sommer van voor af vies vir “kunstenaars” wat dink dit is nodig om elke jaar ‘n album vry te stel. Goed, daar is ‘n paar wat elke keer met iets besonders vorendag kom, maar hulle is die uitsondering op die reël. Laurika het in Augustus verlede jaar begin om aan hierdie album te werk en dis goed dat sy nie oorhaastig daarmee was nie. Daar is nie een swak snit op die album nie, en dit gaan moeilik wees om te voorspel watter drie of vier snitte op die ou einde treffers gaan word. Dit is ongetwyfeld een van die heel beste Afrikaanse albums wat in ‘n lang tyd verskyn het!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.