Want jy is boer- Adam Tas

Want jy is boerHoewel Adam Tas werklik eers omtrent vier jaar gelede werklik gewild geword het nadat hy ‘n kontrak by een van ons land se grootste platemaatskappye losgeslaan het, is hy al langer in die musiekbedryf as wat ‘n mens dink.
Hoe ook al, sy sesde album, Want jy is boer, is onlangs vrygestel, en dit lyk asof dit reeds uiters gewild is. Adam vertel op die CD-omslag dat hy die album geskryf het tydens die droogte van 2012 en 2013 en dat hy dit aan elke boer in die land opdra. Die titelsnit is dan ook sy wens vir elke boer; ‘n mens wonder net of stedelike radiostasies, wat tot dusver huiwerig was om enige liedjie met die woord “boer” in die titel darin te speel, hierdie snit lugtyd sal gee. Die volgende snit behoort een van die groot treffers vanaf die album te wees. Draadloos-dae is lekker nostalgies, en hierin sing hy van herinneringe van sy kinderdae. Reën was die eerste treffersnit vanaf die album, en hierin kom ‘n mens agter dat die droogte hom geïnspireer het om die lirieke te skryf. Karkas van haar Valentine het ook al radiolugtyd begin kry en behoort ‘n groot treffer te word. In Goodbye Kelly sing hy van ‘n vrou wat hom genadeloos misbruik het en hom toe sommer so gelos het. Baie mense sal seker hiermee kan identifiseer! Frikkie en die engel vertel die verhaal van ‘n man wat sy hart as ‘n jong seun aan musiek gegee het. Plaas genaamd Afrika is nog ‘n snit wat dalk ‘n treffer kan word; dit vertel van ‘n pa wat vir sy seun van die geskiedenis van sy plaas en van Suid-Afrika vertel. Happy nuwe jaar vertel van ‘n getroude paar wat arm grootgeword het, maar wie se geluk verander het en op die ou einde by die see gaan aftree het. Engiemand wat aan die gejaagde stadlewe gewoond is, sal met die woorde van Rus en vrede kan identifiseer. Jantjie Koggelman is nie ‘n nuwe snit nie; Adam het dit al voorheen opgeneem, maar besluit om dit weer in te sluit. Op Ligtoringman sing Carlé van Deventer in die agtergrond; dis net jammer dat sy op ‘n deel van die liedjie voorsing nie. Die musikale verwerking van Jonk en vry is baie goed. Tyd om te roes is die enigste snit op die album wat Adam nie geskryf het nie; Pierre Rossouw, Neil Schoombee, Marc Brendon en Don Kelly het almal daarmee gehelp. Die laaste snit, Toe maak ons Vader ‘n boer, is eintlik ‘n gedig waarvoor daar agtergrondmusiek geskryf is, en waarop hy glad nie sing nie.
Dit lyk asof Adam die kol met hierdie album getref het. Hoewel hy dit aan ons land se boere opdra, is die teikengehoor baie groter as dit. Hoewel ‘n mens duidelik kan agterkom dat Adam ‘n trotse Afrikaner is, is dit goed om te sien dat hy nie ‘n politieke boodskap oorgedra het soos wat hy so maklik kon doen nie. Daarom behoort die gewildheid van hierdie album niemand te verbaas nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Nickey ·

Net dankie, baie baie dankie. Ons is in die Wilde Kus en kultuur uitgehonger! Wat ‘n heerlike voorreg om nou hierdie met my gesin te kon deel :) Trots Afrikaans!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.