Wat die hart van vol is- Pieter Koen

Wat die hart van vol isDit is seker nou al vyftien jaar sedert Pieter Koen as ‘n omroeper by Radio Rippel begin werk het, en sedertdien het hy ook bekendheid as sanger verwerf.

Nadat hy lank stil was, het hy eindelik onlangs sy nuwe CD, Wat die hart van vol is, uitgereik. Die titelsnit geen alreeds vir ‘n mens ‘n aanduiding van wat om te verwag: die lirieke, geskryf deur Johan Oberholzer, het baie meer om die lyf as wat ‘n mens gewoonlik van hom verwag. Man van staal het ‘n radiotreffer geword nog voordat die album vrygestel is, en diegene wat die versamelalbum Afrikaans is groot Vol. 6 het, sal weet dat dit oorspronklik daarop voorgekom het. Dit is nog ‘n baie goeie komposisie van Johan Oberholzer en het verdien om ‘n treffer te word. Daar is seker baie mense wat met die lirieke van Die een ding wat ek doen kan identifiseer. Johan Oberholzer het hier met nog ‘n wenner vorendag gekom en hopelik sal dit die volgende treffer vanaf die album word. So hard geval is ‘n spanpoging tussen twee lede van die groep Adam, Hugo Ludik en Reynardt Hugo, Ampie du Preez en Murray Lubbe. Hulle is almal goeie liedjieskrywers, en die feit dat dit ‘n uitstekende liedjie is, behoort niemand te verbaas nie.  In Alfabet sing Pieter van ‘n liefde wat na baie jare herleef het, en dit behoort ook ‘n treffer te word. Die volgende snit, Iets, is die enigste een op die album waarvan die melodie nie oorspronklik Afrikaans is nie; Ampie du Preez het die Afrikaanse lirieke geskryf.

Tydmasjien is nog ‘n baie goeie komposisie van Johan Oberholzer.Moenie dink nie ons doen dit net is effens rustiger as die res van die album; dit is nog steeds ‘n baie goeie snit. Doenit net is ‘n heltemal ander liedjie; geskryf deur Ampie du Preez en Murray Lubbe, en weer eens is dit ‘n snit wat ‘n treffer kan word. 7 dae en nagte is nog ‘n baie goeie komposisie van Johan Oberholzer. Niks anders kan so mooi lyk nie (net jy), Johan Oberholzer se laaste bydrae op die album, is een van die rustiger snitte, en Mathys Maree se trekklavierspel is ‘n hoogtepunt. Die voorlaaste snit op die album, Waar le jy?, is deur Ampie du Preez en Murray Lubbe geskryf, en dis jammer dat dit teen die einde van die album “weggesteek” is. Pieter het Krag van die vlag, geskryf deur Ampie du Prees, Murray Lubbe en Vaughan Gardiner, opgeneem vir die album Blou Bul droom, wat verlede jaar uitgereik is om die Blou Bulle-rugby-unie se 75ste verjaardag te vier. Al is dit nie ‘n nuwe snit nie, kan dit gerus weer radiolugtyd kry.

Hierdie album is ‘n keerpunt in Pieter se loopbaan. Dit is duidelik dat hy sy partytjieklere uitgetrek het en dalk selfs verbrand het, en dat hy met ‘n meer volwasse aanslag vorendag gekom het. Dit kon nie gou genoeg gebeur nie, want dit is verreweg Pieter se heel beste album tot nog toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.