Wat is popmusiek?

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Popmusiek is ’n musiekgenre met Westerse wortels, afkomstig uit die 1950’s en 1960’s, en die woord kan afgelei word uit die afkorting van “populêre musiek”. Dit is eietydse musiek waarna gereeld geluister word, wat die grootste verkope het en gereeld op die trefferparades verskyn. Popmusiek is opgewekte musiek wat elemente van ander style soos rock, hip-hop, Latyns en countrymusiek bevat.

Daar is wel elemente wat popmusiek duidelik kenmerk. Dit is gewoonlik kort- tot mediumlengte liedjies met die vers-koor-struktuur met herhalende koortjies wat maklik saamgesing kan word. Sterk melodielyne en “hook lines” is gewoonlik ook eie aan popmusiek. Dit is die musiekgenre wat gewoonlik die maklikste op die oor val vir die luisteraars daarbuite. Indien ’n liedjie ná die eerste luisterslag saamgesing kan word, is dit vir seker ’n sterk popliedjie.

Die genre fokus ook gewoonlik op die jeugmark soos wat dit reeds die geval was in die vyftiger- en sestigerjare in die Verenigde Koninkryk en Amerika. Tot vandag toe lewer hierdie twee gebiede steeds die sterkste popmusiek aan die wêreld met mense soos Madonna, Katy Perry en Britney Spears. In Suid-Afrika het ons ook ons eietydse popsterre soos Kurt Darren, Nicholis Louw, Nadine en Juanita du Plessis.

Popmusiek kan ook ingedeel word in subgenres soos pop-rock, progressiewe pop, jeug-pop, indie-pop, klassieke pop, country-pop en dans-pop. Hierdie genres in Suid-Afrika word gewoonlik oor die kam geskeer van Sokkietreffers. Popmusiek sal altyd ’n aantrekkingskrag wees vir die omvattende gehoor en is sekerlik vandag die sterkste genre van alle musieksoorte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.