Watwou inryteater, Atterbury bied instapteater

Al ooit van ʼn instapteaterervaring gehoor? Die Atterbury-teater en Optog! nooi lede van die publiek om op 12 en 13 September saam met hulle op dié unieke wyse te kuier.

“Ons is kinderlik opgewonde om die publiek, vir die eerste keer in maande, weer in die teater te kan verwelkom,” sê Delmari van Zyl, bestuurder van Optog! se borge, media en bemarking. “Hoewel alles nog nie naastenby terug is na normaal nie, beteken dit nie ons het nie ’n behoefte aan samesyn en, natuurlik, die kunste nie.”

Hoe werk ʼn instapteater, sal ʼn mens dan wonder.

Nataniël oor sy jongste teaterproduksie, When Giants Waltz, wat van 4 tot 27 Oktober by Emperors Palace se Theatre of Marcellus op die planke is. Foto: Verskaf.

Van Zyl verduidelik dat konserte wat in Optog! se e-bib beskikbaar is, deurlopend op ʼn groot skerm in die teater vertoon gaan word. Teatergangers het heeldag toegang tot die vertonings en besoekers word boonop bederf met ʼn gratis koffie, ʼn smullekker kolwyntjie wat deur Stephnie’s verskaf word. Daarby het hulle ook toegang tot Nataniël se Kaalkop-opwipwinkel. Verskeie kunstenaars se albums sal ook by dié geleentheid in die teater se voorportaal verkoop word.

Hoewel daar talle beperkings, reëls en regulasies is, het die rolspelers koppe bymekaargesit en ’n veilige, vermaaklike manier gevind om die teaterervaring terug te bring.

Geen regstreekse optredes sal plaasvind nie, slegs 50 persone sal op ’n keer in die teater toegelaat word en alle veiligheidsmaatreëls sal onderhou word om ’n veilige besoek aan die teater te verseker, sê Van Zyl.

Die teater is op 12 September van 10:00 tot 17:00 oop en op 13 September

van 10:00 tot 15:00. Kaartjies kos R90 en kan op die dag by die ingang gekoop word.

Hou ook Optog! se webwerf dop vir meer inligting oor die geleentheid.

“Dit gaan ʼn feestelike affêre wees en jy kan dit nie misloop nie,” sê Van Zyl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.