Wen: Afrikaans gaan ‘global’ in Sun City

Snotkop en Ricus Nel is twee van die sangers wat jy sal hoor by die jongste weergawe van die Afrikaans Gaan Global-konsert op 30 en 31 Oktober. (Foto: Verskaf)

Ná die wegholsukses van die eerste Afrikaans Gaan Global- aanlyn konsert in September kan Afrikaanse musiekliefhebbers nou uitsien na ʼn hele naweek lange vermaak saam met 27 van ons beste sangers.

Die tweede konsert word vir ’n hele naweek in Sun City, Noordwes, aangebied en skop amptelik Vrydag 30 Oktober af met die gewilde rugbykletsprogram, Toks en Tjops, wat regstreeks op kykNET vanaf The Boma, Sun City, uitgesaai sal word.

Ná afloop van dié uitsending vind die eerste musiekgenot vanaf 21:00 plaas met Ricus Nel, Jo Black, Refentse, Brendan Peyper, Appel, Ray Dylan en Tashé in aksie tydens die Hardekole-konsert. Toegang vir dié vertoning is ook in die naweekpakket ingesluit, asook ’n spesiale Boma Braai-buffetete.

Die amptelike Afrikaans Gaan Global-konsert op Saterdag 31 Oktober spog met ’n indrukwekkende kunstenaarslys en daar kan uitgesien word na 27 kunstenaars wat die partytjie aan die gang gaan hou – weer vir ʼn volle 12 uur lank. Dié sangers wat jy hier sal hoor, sluit Jo Black, Snotkop, Refentse, Spoegwolf, Adam Tas, Juanita du Plessis, Pieter Koen, Wicus van der Merwe, Demi Lee Moore, Joe F, Ricus Nel, Brendan Peyper, Nicholis Louw, Nadine, Elizma Theron, Tasché Burger, Appel, Elvis Blue, Kurt Darren, Die Campbells, Synth Peter, Jay du Plessis, Karen Zoid, Early B en Ray Dylan in. Vanes-Marie du Toit sal saam met Pieter Koen en Wicus van der Merwe die aanbieders van die konsert wees.

Die 27 sangers vir dié konsert moet nog aangewys word. Kurt Darren, organiseerder en meesterbrein agter Afrikaans Gaan Global, sê lede van die publiek moet iemand nomineer en ’n paneel sangers sal help om die finale keuse hieroor te maak.

“Enigiemand kan ’n sanger op Afrikaans Gaan Global se sosialemediaplatforms nomineer. So kan ’n opkomende kunstenaar ook die kans kry om deel te wees van ons konsert,” sê Darren.

Mense het tyd tot Vrydag 23 Oktober om ’n sanger te nomineer en dié 27ste kunstenaar wat saam met die room van die Afrikaanse musiekbedryf sal optree, sal op Maandag 26 Oktober aangekondig word.

“Die hele Valley of the Waves is vir die naweek van 30 Oktober eksklusief vir Afrikaans Gaan Global bespreek. Slegs kaartjiehouers vir dié konsert sal toegang tot die Valley of the Waves verkry. Mense kan steeds weer in die gemak van hul eie huis saamkuier, óf ’n bietjie in die son by Sun City kom baljaar,” voeg Darren by.

Boonop het een kaartjiehouer ook die kans om ’n ongelooflike MSC Cruises-reis na Europa te wen en die prys sluit boonop twee ekonomiese retoervlugte vanaf Suid-Afrika in. “Elke kaartjiehouer kom in aanmerking vir die prys ter waarde van meer as R150 000. Al wat jy moet doen, is om ’n kaartjie te koop.”

Verder is daar weer reusepryse op die spel met gelukkige trekkings ter waarde van meer as ’n halfmiljoen rand en dié lootjiekaartjies kan ook op iTickets, vir slegs R100, gekoop word.

Die idee vir Afrikaans Gaan Global het aanvanklik gespruit vanuit die behoefte aan ekonomiese verligting in die Afrikaanse musiekbedryf met die Covid-19-pandemie wat elkeen in die vermaaklikheidsbedryf van enige inkomste gestroop het.

“Ons het ’n risiko gewaag deur ’n unieke vertoning van 12 uur lange ononderbroke vermaak aan Afrikaanse musiekliefhebbers te bied en die ongelooflike ondersteuning en terugvoer tydens die eerste konsert het ons stomgeslaan. Duisende musiekliefhebbers vanuit Australië, Nieu-Seeland, Europa, Engeland, Kanada, VSA en natuurlik almal van oor Suid-Afrika en Namibië het ingeskakel om deel van die aksie te wees,” sê Albertus Potgieter, eienaar en besturende direkteur van iTickets, wat die konsert aanbied.

’n Kunstenaarsfonds is ook deur die Afrikaans Gaan Global se passievolle vriende by Deon Schoeman & Associates en Old Mutual Wealth gestig en te danke aan die kaartjieverkope én skenkings van die eerste konsert kon kunstenaars en musikante bykomende finansiële bystand van meer as R130 000 ontvang. Dié inisiatief sal voortgaan vir die volgende konserte en beloof om ’n groot verskil in die musiekbedryf te maak.

Slegs 500 pakkette vir die naweek se konsert is beskikbaar om te voldoen aan die inperkingsmaatreëls en beloop R1 500 per BBP-kaartjie. Dié pakket, per persoon, sluit ’n kaartjie na die Hardekole-konsert op Vrydag 30 Oktober om 21:00 by The Boma in, asook vir Afrikaans Gaan Global op Saterdag 31 Oktober, met volle dagtoegang na die oord. Verblyf is uitgesluit.

’n Beperkte aantal verblyfpakkette is ook beskikbaar en belangstellendes sal moet wikkel om hul kamers teen dié spesiale tariewe te bespreek.

Diegene wat die konserte gaan stroom, kan hul kaartjie teen R250 aankoop, wat albei vertonings – Hardekole en Afrikaans Gaan Global – vir die naweek insluit.

Huispartytjies word ook weer aangebied met pakkette wat teen R3 000 beskikbaar is. Dié #HuisFees-pakket sluit die volgende in: ’n Mini-klankstelsel, ’n tegnikus, asook ’n 60”-TV-skerm vir jou huis of venue tydens die Afrikaans Gaan Global-kuier. Dit word afgelewer en geïnstalleer.

Skenkings aan die Kunstenaarsfonds kan ook weer gemaak word en die #MyFonds-projek, waar mense hul eie skakel vir kaartjiebesprekings kan kry en sodoende R20 per verkoopte kaartjie deur hul skakel kan verdien, sal ook weer aktief wees.

Wen:

Agt van Maroela Media se lesers het die kans om elkeen ’n kaartjie te wen om die aanlyn Afrikaans Gaan Global-konsert oor die naweek van 30 Oktober tuis te kyk. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir die prys, is om die onderstaande inskrywingsvorm in te vul en die maklike vraag te beantwoord:

Waar word die tweede Afrikaans Gaan Global-konsert aangebied?

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Vrydag 23 Oktober om 10:00.

Baie geluk aan Jaco Nagel, Bruwer Burger, Justine Coetzee, Elsabe van Wyk, Anneline du Plessis, Juanita Snyman, Hendra Fölscher en Elizabeth Potgieter wat elkeen ’n kaartjie gewen het om aanlyn die Afrikaans Gaan Global-konsert te kyk. Hoop julle geniet dit – lekker Maroela!

Bepalings en voorwaardes:

  • Deelnemers moet 18 jaar of ouer wees.
  • Die wenners sal lukraak uit alle inskrywings gekies word.
  • Die beoordelaars se besluit is finaal en geen korrespondensie sal verder daaroor gevoer word nie.
  • Die prys, een kaartjie, gee een toestel toegang om die Afrikaans Gaan Global- aanlyn konsert te kyk.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die wenners sal Vrydag 23 Oktober 2020 deur Maroela Media genader word. Die kaartjies se besonderhede sal per e-pos aan elke wenner verskaf word.
  • Die wenners se name sal op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Lees ons privaatheidsbeleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.