[WEN] ‘Altyd in my drome’ by die Brooklyn-teater

Altyd in my drome 1Die opwindende Afrikaanse musiekblyspel, Altyd in my drome, wat gegrond is op die Pierre de Wet-fliek van 1952, word eersdaags weer op die planke gebring, dié keer by die Brooklyn-teater in Pretoria.

Dié blyspel, verwerk vir die verhoog deur Neels Clasen en Dawid Boverhoff, het reeds in 2016 sy teater-debuut gemaak met ʼn speelvak van sewe weke by die Pieter Toerien-teater in Monte Casino, en handel oor ʼn toergeselskap wat net nie op dreef kan kom nie.

Volgens die vervaardiger van die blyspel, Kosie Smit, was gehore totaal gaande oor die produksie. “My gevoel is dat gehore nie heeltemal verwag het wat hulle gaan kry nie, en besonders beïndruk was met die eindproduk,” vertel hy.

Die bekende sanger en akteur Willem Botha vertolk die hoofrol van Ben, ʼn sukkelende komponis wat nuwe liedjies moet komponeer vir ʼn opvoering, maar die begeestering ontbreek – totdat Ben smoorverlief raak op ʼn sangeres, vertolk deur Marina Botha-Spies. Dit kom nadat Klaasvakie, gespeel deur Michelle Botha, ook bekend as Cornia in die eerste seisoen van die kykNET Getroud met rugby-reeks, hom met ’n Kupido-pyl, gespeel deur Tessa Denton, tref.

Ben droom snags van die sangeres, alles in operette-styl, en verklaar dan hardop én al singende sy liefde aan haar. Sy vennoot, Fanie, vertolk deur Grant Towers, buit die kans uit en neem skelm elke liedjie op. Die agent, vertolk deur Neels Clasen, is in sy noppies met die nuutskeppings en por Fanie aan om Ben aan die droom te hou. Die gevolg is dat Fanie nie meer slaap nie en hy Ben op allerhande maniere aan die droom moet hou. Boonop moet hy die drome volgens tema aanhelp!

Uiteindelik kort net die slot-liedjie, uiteraard ʼn liefdesliedjie, maar Ben het ophou droom. Wat nou? Klaasvakie, nog steeds met Kupido se boog, kom tot hul redding, maar tref Fanie en die bordjies word verhang.

Willem Botha, wat in Mei vanjaar sy nuutste solo-album, Soen en vergeet, uitgereik het, sê buiten die feit dat daar soveel nostalgie is met die mooiste musiek, is dit die beste vermaak vir die hele gesin. “Dis net lekker om verlore te raak in die era.” Gehore kan verwag om vermaak te word met ou bekende Afrikaanse liedjies soos “Hasie hoekom is jou stert so kort”, “Tog te wonderlik is die liefde”, “Kommando-lied” en “Altyd in my drome”.

“Dit is die kleinste groot musieksblypel ooit!” sê Neels Clasen, wat met dié produksie ook die regisseurshoed dra. “Daar is kleurryke karakters, wonderlike, skreeusnaakse komedie-tonele, wonderlike, nuutgeskepte asook oorspronklike musiek en ’n geselskap uitstekende kunstenaars,” vertel Neels.

“Die stuk is al baie beskryf as ‘Afrikaanse Vaudeville’, ’n beskrywing waaroor ek mal is, want dit sê vir my iets van die innoverendheid van ons juweeltjie. Die stuk se impak lê juis in die kreatiwiteit en aweregse benadering. Dis ’n stukkie toentertydse sentiment aangebied in eietydse teatervorm en is vermaak vir die hele gesin,” sê Neels.

WEN: Vyf gelukkige lesers kan elkeen ʼn stel dubbelkaartjies wen na die vertoning van Altyd in my drome by die Brooklyn-teater in Pretoria op Donderdag 7 September. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, fisieke adres en jou antwoord na [email protected]. Vraag: Wie vertolk die rol van Ben? Die kompetisie sluit 31 Augustus. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Die kompetisie is gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.