Wen: Balletdansers vier geskiedenis, erfenis by Staatsteater

‘n Toneel uit die Mzansi-balletgeselskap se ‘The Gold Rhino of Mapungubwe Ballet’. (Foto: Ken Jerrard)

ʼn Indrukwekkende versameling van Afrika en Asië se balletdansers is van 26 tot 30 April by die Staatsteater in Pretoria te sien wanneer die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie (SAIBC) in samewerking met die Mzansi-balletgeselskap The Gold Rhino of Mapungubwe Ballet aanbied.

Op die openingsaand is Wouter Kellerman, dubbel Grammy-bekroonde fluitspeler, vervaardiger en komponis, ook self op die verhoog om drie van sy komposisies uit te voer.

“Dit is heerlik om na soveel jaar weer met ʼn vollengte-produksie, wat ballet, opera, en sang betrek, in die Staatsteater op te tree. Ons is onsettend opgewonde om dit vir gehore te wys,” sê Dirk Badenhorst, uitvoerende hoof van SAIBC.

Dirk ervaar die eerste keer in ʼn baie lang tyd dat dit vir hom maklik is om te motiveer waarom hy in Suid-Afrika bly: Om ʼn rol in die opbou van die land te speel en om ʼn gevoel van hoop by Suid-Afrikaners te wek.

“Wanneer ek vir mense oorsee vertel wat ons besig is om in Suid-Afrika te doen, kan ek letterlik sien hoe hulle meer hoop vir ons land kry. Dit is ook wat ons vir ons eie mense nodig het: om ʼn positiewe verwagting vir die toekoms te hê.”

Wouter Kellerman in die Mzansi-balletgeselskap se aanbieding van ‘The Gold Rhino of Mapungubwe Ballet’. (Foto: Ken Jerrard)

SAIBC is oorspronklik op die been gebring met die doel om internasionale blootstelling vir plaaslike en buitelandse dansers te bewerkstellig en ook om regisseurs van plaaslike en buitelandse geselskappe aan nuwe talent bloot te stel.

The Gold Rhino of Mapungubwe Ballet is saamgestel uit boeiende en innoverende ballet- en dansvertelling en choreografie, toegewyde musiekkomposisies en skouspelagtige kostuum-, juweliers- en stelontwerpe.

Die produksiespan bestaan uit Dirk, wat met die idee vir die produksie vorendag gekom het, en Angela Revie, hoof van die produksie se choreografie. Mark Cheyne (musikale verwerker, regisseur en komponis), Mpho Molikeng (medekomponis en inheemse musiekspesialis), SJ Khosa, dr. Cara Stacey en Matthijs van Dijk (medekomponiste), Andrew Botha (dekorkoördinering en -ontwerp) en David Tlale (kostumering) het later bygekom.

Die ballet bring verskillende dansers van Suid-Afrika, Kuba, China en Suid-Korea bymekaar en gehore kan ook uitsien na ʼn vermenging van twee balletstyle.

“Die choreografie van Angela, Mpho en Mdu Nhlapo, is ʼn wonderlike manier om klassieke ballet te vier, maar ook om die konsep van afro-ballet van stapel te stuur. Op hierdie manier vier ons gelyktydig klassieke en Afrikaballet.

“Dit is ook die viering daarvan dat ʼn mens nie tussen die een of die ander hoef te kies nie. Op die ou end kry ons die vermenging op ʼn sinvolle en pragtige manier reg en dit is eintlik die rede vir die bestaan van hierdie ballet. Ek glo dit gaan ʼn groot bydrae tot die sukses van die produksie lewer,” meen Dirk.

  • The Gold Rhino of Mapungubwe Ballet word van 26 tot 30 April by die Staatsteater in Pretoria aangebied. Kaartjiepryse wissel tussen R150 en R250, en dit is by Webtickets beskikbaar.

‘n Toneel uit die Mzansi-balletgeselskap se ‘The Gold Rhino of Mapungubwe Ballet’. (Foto: Ken Jerrard)

Skryf so in

Drie Maroela Media-lesers staan die kans om elkeen ʼn dubbelkaartjie te wen vir die openingsaand van The Gold Rhino of Mapungubwe Ballet wat op 26 April om 20:00 by die Staatsteater in Pretoria aangebied word. Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 16 April om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit op Sondag 16 April om 23:45.
  • Wenners sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind waarna Maroela Media met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op sosiale media en op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Wenners is self vir reis- en verblyfreëlings verantwoordelik.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.