Wen: Bekendes op verhoog vir Dozi se verjaarsdag

Dozi, oftewel Henk Opperman. (Foto: Facebook)

Dit is nie sommer aldag dat jy Adam Tas, Brendan Peyper, Elandré én die gewilde groep Spoegwolf by jou verjaarsdagviering het nie – maar dít is presies hoe die sanger Dozi vanjaar sy 55ste verjaarsdag vier.

Dozi, wat ook die eienaar is van die Back to the Roots-kuierplek in Hartbeespoort, het op 23 Maart verjaar en nooi die publiek om sy geboortedag eerskomende Saterdag saam met hom te vier. Dit is hiér waar Adam Tas, Brendan Peyper, Elandré en Spoegwolf op die verhoog sal wees om saam partytjie te hou.

“Ek doen dit al die afgelope ses jaar, maar het elke jaar net vir Dr. Victor genooi,” vertel Dozi aan Maroela Media. “Vanjaar het ek besluit om ʼn klomp van my ander vriende in die bedryf te nooi om my gaste te kom vermaak vir die dag.”

Hy vertel sy vrou, Kim, met wie hy in Desember verlede jaar getroud is, help hom baie met die kuierplek se reëlings en dit was eintlik haar idee om die vermaak vir die dag uit te brei.

Dozi op die verhoog by Back to the Roots. (Foto: Facebook)

Dozi op die verhoog by Back to the Roots. (Foto: Facebook)

“Sy het gesê ek moet verskillende ouens kry en ek is mal oor die mense wat ek gekies het se musiek. Volgende jaar kies ek dalk weer ʼn klomp ander ouens om die dag saam met my te kom deurbring,” vertel hy.

Volgens Dozi was hy vorige jare altyd op toer tydens sy verjaarsdag en was dit maar altyd ʼn effe vervelige dag. “So, dit is vir my nou baie lekker om dit só te kan doen. Ek was vir baie lank vreeslik alleen op my verjaarsdag.”

Hy vertel dat Kim hom baie bederf het met sy verjaarsdag vanjaar. “Ek verjaar omtrent die hele week lank! Sy het vir my ʼn verrassingspartytjie gereël en dit was heerlik. Ek hou van verjaar – as ʼn mens ouer as 50 is, weet jy nie vir hoe lank jy nog gaan verjaar nie,” skerts hy.

Dozi se verjaarsdagviering met Adam Tas, Brendan Peyper, Elandré en Spoegwolf vind Saterdag 30 Maart by Dozi’s Back to the Roots in Hartbeespoort plaas. Kaartjies kos R240 by die deur en R190 aanlyn by www.dozisbacktotheroots.co.za.

Die hekke maak om 10:00 oop en Adam Tas begin om 10:45 speel, gevolg deur Brendan Peyper om 12:00, Elandré om 13:15, Dozi om 14:30 en Spoegwolf om 15:45.

Daar sal verskillende kosstalletjies wees en die venue is ook kindervriendelik, met ʼn speelterrein met springkastele.

Wen

Vyf gelukkige lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie wen na Dozi se verjaarsdagviering met Adam Tas, Brendan Peyper, Elandré en Spoegwolf Saterdag 30 Maart by Dozi’s Back to the Roots in Hartbeespoort. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Die kompetisie sluit Donderdag 28 Maart om 08:00.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ursula ·

Ek is mal oor sy liedjies
hoop die dag gaan lekker sonskyn wees
urs

afrikaansISlekker ·

Dit behoort n fees te wees
Dozi sing lekker en Brendan Peyper lyk lekker :P

Disaster ·

Wonder hvl klagtes gaan weer instroom na die beplande ramp. Man gril my uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.