Wen: Beleef opwindende koorfees se by Taalmonument

Marvin Kernelle. (Foto: Verskaf)

Marvin Kernelle. (Foto: Verskaf)

Danksy die hoë noot waarop verlede jaar se eerste koorfees geëindig het, vind die tweede Taalmonument Koorfees op Donderdag 14 Maart plaas wanneer 14 kore hul beste note gaan voorsit – en dit boonop met die maestro van die Kaapse Operakoor, Marvin Kernelle, as seremoniemeester.

“Een van die doelwitte van hierdie fees is om koormusiek te bevorder,” sê Christine Bam, mede-organiseerder en self ʼn mezzo-sopraan en stemafrigter. “Daar is geen kompetisie of beoordeling gekoppel aan hierdie geleentheid nie. Dit is ʼn lekker saamsing-fees waar kore kan kom sing, die dag geniet en kan netwerk met ander kore.”

Die dag bied ook ʼn geleentheid aan kore om deur middel van kaartjieverkope geld in te samel, terwyl dit vir leerders, hul gesinne en die breër publiek ʼn kans gun om hul musiekliefde met mekaar te deel.

Die 14 kore, dié van Voce Armoniche, Laerskool Aristea, Laerskool Bastion, Hoërskool Cradock, Hoërskool De Kuilen, William Lloyd Primêr, Hoërskool Brackenfell, Laer Meisieskool Paarl, Hoër Meisieskool Paarl, Paarl Primêre Seunskool, Worcester Voorbereiding, Hoërskool Namakwaland, Laer Meisieskool La Rochelle en Hoër Meisieskool La Rochelle, gaan individueel en gesamentlik gaste met ʼn wye verskeidenheid musiek vermaak. Die massakoorwerk waarmee die aand afgesluit word, is “Blou” (lirieke en musiek deur André Swiegers, verwerking deur Alna Smit).

“Ons is ook baie opgewonde om vir Kernelle as seremoniemeester te verwelkom,” sê Bam. Kernelle is nie net ʼn operasanger en sedert 2014 Kaapstad Operakoor se koormeester nie, maar ook ʼn bekende gesig by koorgeleenthede. Hy was onlangs ʼn beoordelaar van die gewilde Varsity Sing-reeks asook ʼn beoordelaar vir die Wêreldkoorspele wat verlede jaar in Suid-Afrika gehou is.

Die Taalmonument Koorfees word in die amfiteater op Paarlberg aangebied, en kos- en drankstalletjies sal beskikbaar wees. Hekke open om 17:00 met die agtergrondklanke van die Imbhewu Marimba-groep voordat die koorsang om 19:00 begin.

Kaartjies kos R120 vir volwassenes en R60 vir kinders jonger as 12 en is beskikbaar by Computicket of die amfiteater se hek. Besoekers word versoek om warm klere te bring. Geen vure, honde, eie kos of drank word toegelaat nie. Toegang word beheer en voldoende parkering is beskikbaar.

Vir meer inligting oor die koorfees skakel 083 621 8483 of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 863 0543/4809, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.

Wen

Twee gelukkige lesers staan elkeen die kans om ʼn dubbelkaartjie te wen na die Taalmonument Koorfees op Donderdag 14 Maart. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Die kompetisie sluit Vrydag 1 Februarie om 09:00.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.