Wen: Geskenkpak met splinternuwe albums deur Afrikaanse kunstenaars

Die Covid-19-pandemie het die musiekbedryf wêreldwyd ʼn reuseknou toegedien. Ondanks die moeilike jaar wat plaaslike kunstenaars beleef het, kon van die land se grootste musikante steeds daarin slaag om splinternuwe albums uit te reik.

Maroela Media en VONK Musiek wil hierdie Kersfees twee lojale Maroela-lesers bederf met ʼn album-geskenkpak. Juan Boucher se Gewigloos, Dozi se Vrede, Jan Blohm se Jenny en Herman Kleinhans se Ruite oop is deel vom van dié heerlike geskenkpak.

Juan Boucher – Gewigloos

Met 12 jaar van sukses in die musiekbedryf en ʼn rits goue- en platinumverkoperalbums agter sy naam is Juan Boucher een van Afrikaans se gewildste kunstenaars wat diep in sy aanhangers se harte nesgeskop het.

Ter viering van sy loopbaan tot dusver het Boucher ’n splinternuwe album, Gewigloos, uitgereik. “Dit is my eerste album waar nie een van die klanke geprogrammeer is nie en met regte instrumente regstreeks opgeneem is. Wanneer ek daarna luister, voel ek gewigloos,” vertel die sanger.

Elke liedjie is in ʼn unieke styl geskryf, met verskillende ritmes en tempo’s en kitare wat sag skree en die bas wat alles nostalgies bymekaar hou. Gewigloos bestaan uit 12 oorspronklike snitte en buiten lekker opgewekte danstreffers en pragtige liefdesliedere is liedjies wat hy saam met twee ander kunstenaars, Neil Somers en Len Muller, geskryf het ook ingesluit.

Dozi – Vrede

Dozi se splinternuwe album Vrede is ʼn versameling snitte met ʼn akoestiese verwerking wat gaan voortbou op die wenresep waarvoor dié sanger oor die jare bekendheid verwerf het, maar ook ’n splinternuwe kant van sy musiek vir die publiek wys.

Elkeen van die liedjies is noukeurig uitgesoek om die musikant se stem en styl te komplementeer.

“Vir die afgelope ses jaar het ek probeer om ʼn restaurant aan die gang te hou,” vertel hy oor sy kuierplek, Dozi’s Back to the Roots in Hartbeespoort.

“Dit het my laat besef hoe belangrik musiek eintlik vir my is. Dit is wat ek ken en waarvoor ek lief is en het my geïnspireer om hierdie album op te neem en eerder die restaurantbedryf vir diegene te laat wat daarin spesialiseer.”

Vrede is Dozi se 19de album en spog met 12 oorspronklike snitte, waarvan hy drie liedjies self geskryf het. Stef Kruger het die res geskep en volgens die sanger was dit vir hom so lekker om weer saam met hierdie begaafde liedjieskrywer te werk.

Die inhoud kan hoofsaaklik beskryf word as ʼn kombinasie van dieper dinkmusiek, wat hier en daar afgewissel word met ’n ligter dansnommertjie.

“Saam met Op Aanvraag en die Mercy-album beskou ek my jongste uitreiking as iets wat die naaste kom aan die ware Dozi-klank. Die album is in vrede gemaak, in vrede weggestuur en nou moet dit in vrede geld maak,” sê hy.

Jan Blohm – Jenny

Jan Blohm se konsep-album, Jenny, wat uit 14 snitte bestaan vertel die storie van twee tieners wat in die 1980’s in die klein konserwatiewe spoorwegdorpie, De Aar, woon. Dit is die eerste keer wat Blohm so ’n projek aanpak, maar volgens hom is dit iets wat al lank in sy kop broei en eendag die klankbaan van sy fliek met dieselfde naam gaan wees.

“Die album is nie net nog ’n versameling liedjies nie,” verduidelik die kunstenaar. “Ek het baie moeite gedoen om oor die afgelope 15 jaar liedjies en gedigte saam te sit om ’n storie te vertel. Dis soos ’n fliek van Jenny se lewe.”

Hoewel hy bekendheid verwerf het vir sy kenmerkende rock-blues klank, het soul-musiek nog altyd ʼn groot invloed op sy styl gehad en hierdie element is duidelik in die album teenwoordig.

“Ek het vir hierdie album baie inspirasie geput uit Suid-Amerikaanse koormusiek en die werk van verskeie soul-kunstenaars.”

Omdat konsep-albums geneig is om op ’n sentrale tema te fokus – in hierdie geval Jenny se storie – hoop Jan dat mense die album van begin tot einde sal luister. “Ek hoop luisteraars geniet dit. Die meeste mense hou van stories en hierdie is ’n liefdesverhaal wat met ’n hele album vertel word.”

Herman Kleinhans – Ruite oop

Herman Kleinhans, ook bekend as die een helfte van die sangduo Twee, se jongste solo-album, Ruite oop, bevat alles van emosionele liefdesliedere tot lighartige kuiermusiek, met ʼn volwasse kontemporêre klank.

Ruite oop spog met 12 snitte, hoofsaaklik uit sy eie pen, met die uitsondering van drie liedjies, waarvan hy twee saam met die musikant Bok van Blerk en een getiteld “Ons kan” saam met sy meisie, Maryke, geskryf het.

“Die tema van die album is ‘lewe in Suid-Afrika’ en baie onderwerpe word aangeraak – van depressie tot liefde,” sê Kleinhans.

“Dit was vir my belangrik dat elke snit van uitsonderlike gehalte moes wees, omdat ek dit vir ’n geruime tydjie gaan moet sing. Ek maak juis oor hierdie rede nie eintlik kommersiële musiek nie, omdat ek dit nooit geloofwaardig sal kan sing by vertonings nie.

“Hierdie album is egter ʼn poging om ʼn bietjie nader te kom aan die mark wat gedink het ‘Kamer 4’ is mooi, maar te rustig. Tertius Human en al die ander musikante wat betrokke was by die vervaardiging van die album het hulle skitterend van hulle taak gekwyt en die album vloei lekker. Ek sien uit daarna om te hoor wat mense dink.”

Wen: Twee gelukkige lesers kan elkeen ʼn geskenkpak met dié vier VONK-albums wen.

Die kompetisie sluit op Donderdag 10 Desember om middernag.

Bepalings en voorwaardes:

  • Die wenners sal lukraak uit die inskrywings gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Slegs twee wenners word aangewys wat elkeen ʼn geskenkpak sal ontvang.
  • Die geskenkpak bevat die volgende vier albums: Juan Boucher se Gewigloos, Dozi se Vrede, Jan Blohm se Jenny en Herman Kleinhans se Ruite oop.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die pakkies sal per koerier direk by die fisieke adres wat deur die wenner verskaf is afgelewer word deur VONK Musiek. Maroela Media aanvaar geen aanspreeklikheid vir pakkies wat nie afgelewer word nie.
  • Die wenners se name sal op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Lees ons privaatheidsbeleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.