Wen: Jannie du Toit hou ‘Kunstefees in die kleine’

Jannie du Toit. (Foto: Ivan Naudé)

Jannie du Toit. (Foto: Ivan Naudé)

Die geliefde musikant Jannie du Toit, wat allerweë beskou word as ʼn legende in die Afrikaanse musiekbedryf, is vanjaar op talle kunstefeeste oral in Suid-Afrika te sien.

Du Toit, wat die afgelope naweek op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees te sien was saam met Anton Goosen en Coenie de Villiers in die musiekproduksie, Musiek en Liriek – 40 jaar later, is ook op die planke te sien by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein, die Makhanda (Grahamstad) National Arts Festival en Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom.

Gautengers wat nie dié kunstefeeste kan bywoon nie, hoef egter nie uitgelaat te voel nie. Du Toit sal op Sondag 14 Julie ook sy sogenaamde Kunstefees in die kleine by die Atterbury-teater in Pretoria aanbied.

Hy sal tydens dié spesiale dag drie van sy gewildste musiekproduksies in verskillende tydgleuwe by dié toonaangewende teater uitvoer. Die produksies sal ook tydens dié konserte voor gehore vir kykNET opgeneem word.

Oesjaar

Die eerste produksie wat uitgevoer sal word, is Oesjaar. Oor die afgelope paar jaar het Du Toit hom daarop toegespits om musiek van sy gunstelingmusikante te sing, maar het hy ook verlede jaar ʼn album, met tien oorspronklike snitte, vrygestel getiteld Oesjaar 2018.

Tydens die Oesjaar-uitvoering sal Du Toit se oorspronklike werke gehoor kan word wanneer hy saam met die musikante Susan Mouton op tjello, Chanie Jonker op klavier en Theuns Botha op tromme op die verhoog sal wees.

Bonjour Monsieur Brel

Die produksie, Bonjour Monsieur Brel, word ná Oesjaar uitgevoer. Tydens dié produksie sing Du Toit in Afrikaans, Engels, Frans en Nederlands. In die produksie word die verhaal van Jacques Brel nie vertel nie, maar word sy liedere eerder gesing en daar word aangehaal uit sy tekste.

Chanie Jonker begelei vir Du Toit op die klavier en trekklavier en Mouton sal ook met haar tjello op die verhoog wees.

Kiekies – Lucas se liedjies

Die derde en laaste produksie wat op dié Kunstefees in die kleine te sien sal wees, is die gesogte produksie Kiekies – Lucas se liedjies, waar Du Toit saam met die kitaarspeler Thean Kotze musiek van sy ontslape boesemvriend, Lucas Maree, uitvoer. Dié produksie was ook vroeër vanjaar tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien.

Kunstefees in die kleine word op Sondag 14 Julie by die Atterbury-teater aangebied. Oesjaar sal om 12:00, Bonjour Monsieur Brel om 15:00 en Kiekies – Lucas se liedjies om 18:00 in die teater aangebied word.

Kaartjies vir Kunstefees in die kleine is aanlyn by iTickets beskikbaar. Kaartjies vir een optrede kos R150 per persoon, vir twee optredes R220 per persoon en vir drie optredes R270 per persoon.

Daarby is ʼn spesiale aanbod van die gewilde restaurant Stephnie’s in die Lynnwood Bridge beskikbaar: elkeen wat twee of meer van die vertonings bywoon, kwalifiseer vir een van 50 afslagbewyse vir daardie dag. Dit behels 15% afslag op hulle gewone spyskaart. Besprekings vir etes moet ook vooraf by 012 348 8943 gedoen word.

Wen

Twee gelukkige lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie wen na al drie die vertonings wat plaasvind tydens Kunstefees in die kleine op Sondag 14 Julie by die Atterbury-teater in Pretoria. Wenners sal per e-pos in kennis gestel word. Die kompetisie sluit Dinsdag 9 Julie kort voor middernag.

Die kompetisie het gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae