Wen: Jo Black vir een aand in Amsterdam te sien

Jo Black (Foto: Facebook)

Op eie bodem is die bebaarde sanger Jo Black bekend vir sy positiewe, opbouende musiek en die boodskap van hoop wat hy landwyd uitdra.

Dié gewilde rasperstemsanger, wat ook as televisieaanbieder en beskermheer van sy eie liefdadigheidsorganisasie optree, bring ook binnekort inspirerende musiek en stories van hoop na internasionale gehore.

Jo is slegs vir een aand op Saterdag 15 Julie te sien op die verhoog van die gesogte Theater Amsterdam in Nederland.

Dit is die eerste keer wat Jo sy treffers soos “Bring die hoop weer terug”, “Skepe” en “Voel jy die genade” na konsertgangers in dié Nederlandse hoofstad bring.

Die eksklusiewe konsert, Hoop in Afrikaans, gaan die talentvolle sanger en liedjieskrywer se musiekvernuf ten toon stel en bewys waarom hy een van Suid-Afrika se grootse musieksterre is.

Die konsert in Amsterdam vorm deel van die Europese been van Jo se internasionale toer, waar hy ook na Londen en Skotland in die Verenigde Koninkryk vir konserte gaan reis.

“Ek kan nie wag om my tasse te pak en my boodskap van hoop in die buiteland te deel nie.

“Ek hoop Europa en Brittanje is gereed, want ek is slaggereed om almal te ontmoet. Ek is geseënd met die geleentheid om voor ʼn internasionale gehoor op te tree en ek sien uit daarna om in die buiteland te kuier,” sê die sanger.

Jo se konsert in Amsterdam volg op dié van bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars se vertonings in die Theater Amsterdam.

Demi Lee Moore het in September 2022 ʼn uiters suksesvolle konsert gehad in dié gewilde wêreldstad, waar derduisende Suid-Afrikaners tans ook ʼn heenkome vind.

Nataniël is op Saterdag 13 Mei in die Theater Amsterdam te sien. Die kaartjies vir hierdie vertoning is reeds 80% uitverkoop en beskikbaar op www.eventbrite.com.

Dit is die derde konsert wat deur The Marketing Zoo hier georganiseer word. “Ons is baie trots op die konserte. Ons is ʼn internasionale bemarkingsmaatskappy, maar ons harte lê steeds by ons mense in Suid-Afrika,” sê Wian Smith-Venter, uitvoerende hoof van The Marketing Zoo, wat ook deesdae in Nederland woonagtig is.

“Daarom het ons besluit om van Suid-Afrika se gunsteling-kunstenaars na ons mense in Nederland te bring, en waar beter om konsert te hou as in die gesogte en toeganklike Theater Amsterdam?

“Die afgelope twee konserte se kaartjies het soos soetkoek verkoop, dus raai ons mense aan om te spring sodra die kaartjieverkope oopgestel word om teleurstelling te voorkom. Die eerste kaartjies sal weer teen ʼn spesiale tarief bekom kan word.”

Nog ʼn groot Suid-Afrikaanse naam of twee sal in September in Amsterdam op die planke te sien wees vir ʼn unieke konsep, wat vir eers nog ʼn verrassing is.

Hoop in Afrikaans deur Jo Black is 90 minute lank en beloof om presies te doen waarvoor dit staan. “Ek het altyd hoop nodig en daarom weet ek mense het ook” voeg Jo by.

Koop jou kaartjies vir die konsert in Nederland hier op www.eventbrite.com

Wen:

Twee gelukkig lesers in Nederland staan die kans om elkeen ʼn dubbelkaartjie na Jo Black se Hoop in Afrikaans-konsert op Saterdag 15 Julie by die gesogte Theater Amsterdam te wen.

Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Dinsdag 30 Mei om 23:45 .

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit Dinsdag 30 Mei om 23:45.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenners in verbinding sal tree.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Wenners is self vir reis- en verblyfreëlings verantwoordelik en moet verkieslik in Nederland woonagtig wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.