[Wen] Jonkman en Baartman: Nuwe, lawwe liedjies vir kinders

Jonkman en Baartman. Foto: Verskaf

Jonkman en Baartman. Foto: Verskaf

Jonkman en Baartman, die duo wat bestaan uit Leon Gropp en Christiaan Baartman, het pas ʼn nuwe kindermusiekalbum, Jonkman en Baartman sing nuwe lawwe liedjies, uitgereik met lekkerluister-musiek en wat boonop opvoedkundig is. Dié duo het by Maroela Media kom kuier om te gesels oor dié album, ʼn projek waaraan hulle drie jaar gewerk het.

Jonkman en Baartman het elkeen ʼn eie sololoopbaan in eie reg. “Ons het aanklank gevind by mekaar se musikale styl,” sê die twee. “Soms sukkel jy om uit te breek in ʼn ander styl in, maar in dié geval was dit nie so nie.”

Die groep skryf hul eie liedjies wat hulle mik op ʼn mark van baie jonk tot en met sewe of agt jaar oud. “Die liedjies is opvoedkundig van aard. Ons het die liedjies geskryf op só ʼn manier dat die persoon wat die kind oppas, ook die album kan geniet. Jy gaan waarskynlik ure daarna luister en dit was vir ons belangrik.”

Hoewel kinder- en opvoedkundige musiek vir hulle belangrik is, gaan dit oor veel meer: “Om goeie musiek te ontwikkel by kinders is vir ons ʼn passie. Ons het self in so ʼn huishouding grootgeword deur harmonieë te sing voor die wasbak. Die unieke musikale ontwikkeling is besig om te verdwyn in die moderne samelewing en dis ʼn skande. Met dié CD probeer ons dit weer in huishoudings terugkry.

“Musikale ontwikkeling speel ʼn groot rol vir kognitiewe ontwikkeling. Ons het gewerk saam met ʼn oudioloog en ander mense om te verseker dat kinders leer oor goed soos kleure en om te tel.”

Hulle meen dié album is anders as ander in sy soort. “Dis nie ʼn homogene soort klank nie. Ons moes soveel harder werk om bó ander uit te staan en ons produk uniek te maak. Die instrumentasie is op só ʼn wyse gebruik om dit te verseker.”

Die CD kan gekoop word by Graffiti Books in Lynwood Bridge in Pretoria, Music Mood in Woodlands of by Beauty Beyond Belief in die Castle Walk-sentrum.

Volg Jonkman en Baartman op Facebook of besoek hulle webwerf vir meer inligting.

Let wel: Die kompetisie is gesluit. Drie lesers kan elk ʼn eksemplaar van Jonkman en Baartman sing nuwe lawwe liedjies wen. Om in te skryf vir dié kompetisie, stuur jou antwoord op die volgende vraag, asook jou naam, van, kontaknommer en posadres na [email protected]. Vraag: Waar is een plek waar jy die groep se CD in die hande kan kry?

Die kompetisie is geldig tot 23 Maart. Wenners sal per e-pos in kennis gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.