Wen: ‘Kersfees onder die sterre’ by die Taalmonument

Amira Willighagen. (Foto: Verskaf)

Amira Willighagen. (Foto: Verskaf)

Die Taalmonument en PaarlFM bied vir die eerste keer ʼn produksie aan saam met Bolandse sangsterre, die jong Nederlandse sangsensasie Amira Willighagen en die aktrise Jill Levenberg. Oud en jonk kan die Kersfeesgees opnuut beleef danksy die kore en orkeste se vertolkings van bekende en minder bekende Kersliedere.

Willighagen het die eerste keer haar talent as operasanger geopenbaar deur Holland’s Got Talent in 2013 op die ouderdom van nege te wen. Sedertdien het sy onder meer in die VSA, Duitsland, Hongkong, Argentinië, Suid-Afrika asook in Londen in die beroemde Royal Albert Hall opgetree.

Sy het opgetree saam met internasionale persoonlikhede soos die Britse tenoor Paul Potts, die Nederlandse violis en dirigent André Rieu en die Italiaanse sanger Patrizio Buanne. Willighagen, wat half Suid-Afrikaans is, woon nou in Suid-Afrika waar sy ʼn liefdadigheidsorganisasie, Gelukskinders, van stapel gestuur het om speelgronde vir minderbevoorregte kinders op te rig.

Jill Levenberg. (Foto: Verskaf)

Jill Levenberg. (Foto: Verskaf)

Levenberg, bekend vanweë haar rol as Antie Maymoena in die kykNET-sepie Suidooster, is ook te sien in die rolprent Die storie van Ellen Pakkies. Sy sal die seremoniemeester en gaskunstenaar wees. Die ander musiekgroepe wat die aand optree sluit in Probell Woodwind Brass, Ida’s Valley’s Young Souls, Heathfield OAC Band, Eersterivier Silverstreams, Ambassadors, Makupula High, Flave Five en Sinc4.

“Die hoofdoel is om die geboorte van Jesus te beklemtoon deur middel van sang en musiek,” het Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, luidens ʼn mediaverklaring gesê.

“Dit sal ook die deelnemers, onder andere Shining Stars en Boland Youth Orchestra, die geleentheid bied om hande te vat en in groter groepsverband op te tree. Dit is waarlik ʼn voorreg om só ʼn geleentheid te kan aanbied. Ons hoop soveel moontlik mense van ʼn wye agtergrond sal ʼn heerlike somersaand in ʼn beeldskone omgewing saam met ons kom deel. Aangesien die vertoning om 18:00 in die Paarl Amfiteater begin, sal gaste nie net deur die musiek oorrompel word nie, maar ook ʼn pragtige sonsondergang kan aanskou.”

Die konsert vind op 15 Desember plaas. Kaartjies is vooraf by Computicket en die Taalmonument beskikbaar teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders van ses tot 14 jaar. Kinders jonger as ses kry gratis toegang. Bring ʼn kombers of kussing en warm klere saam. Kos, koeldrank en drankies sal te koop wees. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Geen eie kos en drank, honde of vure word toegelaat nie.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede (soos die volmaan- en sterrekykpieknieks), skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

Wen:

Twee gelukkige lesers staan elkeen die kans om ʼn dubbelkaartjie te wen na dié uitvoering by die Taalmonument op 15 Desember. Wenners sal per e-pos in kennis gestel word. Die kompetisie sluit Vrydag 30 November om 09:00.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.