Wen: Kom langarm saam met Klipwerf by Varstrapkonsert

Die Klipwerfboereorkes het ʼn spesiale FAK-toekenning vir hul 50ste bestaansjaar in die musiekbedryf ontvang. Foto: Verskaf

Die Klipwerf-orkes is alles waarvoor die Afrikaanse kultuur bekend staan: die musiek is lekker, dit laat jou vinnig skoffel op die meelvloer en laat jou verlang na ʼn gesellige braaivleisvuur.

Kobus Visagie, die orkesleier wat reeds 50 jaar vir die gewilde musiekgroep speel, reken Klipwerf se sukses lê juis daarin dat hulle nie gekarring het aan ʼn resep wat reeds met 33 albums werk nie. Die groep het al Sama-, Ghoema- en Satma-pryse vir sy musiek ontvang.

“Ons vat mense se gunstelingliedjies en dan boere-faai ons dit net so bietjie,” sê Visagie.

Hy vertel hy was eens die jongste lid van die orkes en het al self die trekklavier en orrel vir die groep gespeel, maar tokkel deesdae die klawers op die klawerbord vir Klipwerf.

“Ek het maar op die platteland grootgeword met hierdie soort musiek. Dit is wat ons in die koshuis op Calvinia in die Noord-Kaap geluister het en dit was die soort musiek wat van geslag tot geslag oorgedra is,” sê Visagie.

Hy vertel dat Klipwerf nou elke geleentheid gebruik om hierdie musiek te bevorder omdat dit vir hulle so eie aan die Afrikaanse kultuur is.

Dit is iets wat Gene van Niekerk, nog ʼn lid van Klipwerf wat self ook reeds 20 jaar betrokke is by die orkes, beaam. “Vir Klipwerf gaan dit oor Afrikaanse musiek en om mense betrokke te kry waar hulle saam kan luister en dans op die lekker musiek wat ons maak.”

Van Niekerk sê ook die orkes het nie sy suksesresep verander nie, maar bly tog innoverend. “Ons doen nie vreemde dinge nie, maar sal iets nuuts byvoeg soos ʼn saksofoon se klank by dit wat reeds vir ons werk.”

“As jy nog nie by een van ons optredes was nie, moet dit op jou doenlys kom, want ons dans te heerlik,” voeg Visagie by.

Hoewel Klipwerf se boeremusiek steeds een van die topverkoper-genres in die land is, is daar bitter min dansgeleenthede hiervoor en dit is wat iets soos die Varstrap-musiekkonsert so uniek maar ook lekker maak.

Die Varstrap-musiekkonsert beloof om een van die grootste danspartytjies nog te wees. Grafika: Verskaf.

Dié orkes sal een van die groep musikante wees by die grootste boeremusiek-danspartytjie van die jaar op 23 November. Die Varstrap-konsert sal Carnival City se Big Top Arena in Brakpan aan die Oos-Rand laat ontplof met die klanke van oorspronklike boeremusiek en paartjies sal kan langarmdans tot laat in die aand.

Konsertgangers kan verder ook uitsien na voorvertonings deur die bekroonde musiekduo, Die Ventertjies, asook Kosie Beukes met sy eie boerepompie.

“Die Ventertjies het pas ’n Satma-toekenning ontvang, wat een van die grootste prestasies in die boeremusiekmark is,” verduidelik Bino Bishoff, die hoof van Afrikaanse musiek by Universal Musiek, wat ook verantwoordelik is vir die reël van hierdie unieke danspartytjie. “Kosie Beukes is net 12 jaar oud en het die land aan die gons met sy konsertinaspel. Verder kan hy ook 12 ander instrumente bespeel, so hy gaan beslis ’n aanwins vir die konsert wees.”

Varstrap, wat aangebied word in samewerking met kykNET NOU!, Pretoria FM, Belgravia en Buffelsfontein Brandewyn, sal om 20:00 die aand afskop en deure sal om 19:00 open. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Computicket en word verkoop teen R150 per persoon.

As langarm, lekker kuier en boeremusiek jou hart vinniger laat klop, is dit beslis nie iets wat jy moet misloop nie. Bring jou vriende en familie saam en maak ’n onvergeetlike geleentheid daarvan. Daar is net ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar, so bespreek nou.

Wen:

ʼn Leser van Maroela Media kan ʼn versamelaarskas met al die albums van Klipwerf-boereorkes van die afgelope 50 jaar asook die groep se jongste album wen. Die wenner sal ook ’n dubbelkaartjie na die Varstrap-musiekkonsert ontvang wat op 23 November by Carnival City se Big Top Arena plaasvind.

Al wat jy moet doen om in aanmerking vir die prys te kom, is om jou besonderhede in die kompetisievorm in te vul en die maklike vraag te beantwoord.

  • Baie geluk aan Gerard Rehder van Spring wat die wenner van hierdie kompetisie is. Geniet die Varstrap-musiekkonsert en jou versamelaarskas van die Klipwerf-orkes se albums.

Bepalings en voorwaardes

  • Die wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal op 7 November ná 12:00 die middag plaasvind waarna die wenners per e-pos in kennis gestel sal word.
  • Indien enige van die betrokke persone nie binne 48 uur reageer nie, sal ʼn volgende wenner aangewys word en die oorspronklike wenner die prys verbeur.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op sosiale media en op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse word per koerier versend.
  • Die pryse kan nie vir kontant geruil word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae