[Wen] Kom sing saam met die krone

Krone (Foto: Verskaf)

Krone (Foto: Verskaf)

Die land se top Afrikaanse kunstenaars is slaggereed vir die derde aflewering van Suid-Afrika se gunstelingkonsert, Krone 3, wat as “ʼn moewiese saamsing-jol” beskryf word.

Volgens Tania Fourie, publisiteitsbeampte van Select Musiek, gaan die kunstenaars Carnival City op 13 en 14 Augustus “op horings neem met treffer na treffer” met ʼn konsert vir die hele gesin.

Kunstenaars soos Nicholis Louw, Kurt Darren, Ray Dylan, Snotkop, Juanita du Plessis, Adam Tas, Brendan Peyper, Andriëtte, Elizma Theron, Ricus Nel, Liezel Pieters, Manie Jackson, Refentse, Jacques Tereblance en 4 Werke gaan ʼn hele rits keurspelle van plaaslike en internasionale gunstelinge uitvoer.

Volgens Fourie kan konsertgangers oudergewoonte uitsien na ʼn interaktiewe konsert. “Net soos met die stampvol vertonings van die verlede, sal die gehoor in karaoke-styl, met lirieke op die grootskerm, na hartelus kan saamsing vir solank as wat asem en stembande hou,” het sy gesê.

Die konsert is gemik op die hele gesin. “Professionele sangers en stortsangers, dié wat die woorde van alle liedjies wat al ooit geskryf is ken, dié wat verkies om nie te sing nie en selfs dié wat áángeraai is om eerder nie te sing nie – almal is welkom,” het sy bygevoeg.

Kaartjies vir die konsert is nou beskikbaar by Computicket.

WEN: Twee lesers staan die kans om ʼn dubbelkaartjie te wen na die konserte op 13 en 14 Augustus onderskeidelik. Stuur jou naam, van, kontakbesonderhede en antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Waar vind die Krone-konserte plaas? Inskrywings sluit op 3 Augustus om 15:00. Die wenners word per e-pos in kennis gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wat-ek-lees ·

Nou se dae sing almal: die wat kan sing sing en die wat nie kan sing sing ook.
Die woorde van die liedjie(s) is iets soos:
“Ek het jou lief:
jou hartedief.
Jou soetelief;
jou boeliebief”.
wat dan oor en oor herhaal word met ‘n musiekritme wat skrik vir niks.
Nee-wat, dankie. Duidelik is die werklike sangers maar yl in hierdie groep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.