Wen: ‘Liefde by die Dam’ gaan Kaap toe

Goeie nuus vir musiekliefhebbers in Kaapstad! Die immergewilde Liefde by die Dam-konsert, wat jaarliks by die Emmarentiadam in Johannesburg aangebied word, maak ook vanjaar ʼn draai by Meerendal in Durbanville.

Liefde by die Dam, vernoem na Valiant Swart se bekende treffer met dieselfde naam, strewe daarna om as vertoonvenster vir die beste plaaslike talent te dien. Die program sorg vir die heerlikste musiek vir jonk en oud, ʼn ideale musiekbelewenis vir die hele gesin of ʼn lekker dag uit saam met jou “besties”.

Tarryn Lamb.

Tarryn Lamb.

“Dit is uiteindelik tyd om ons dag vol musiek, goeie kos en samesyn ook Kaap toe te bring. Bring jou mense en kom geniet die dag saam met ons by Meerendal in Durbanville met die wingerde en berge as prentjiemooi agtergrond,” sê Pierre Greeff, voorsanger van die musiekgroep, Die Heuwels Fantasties, en ook een van die organiseerders van Liefde by die Dam.

Agt bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars en groepe gaan by die piekniekstyl-konsert optree. Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties, Valiant Swart, Sunset Sweatshop, Koos Kombuis, Early B, Tarryn Lamb en Spoegwolf sal almal te sien wees. Seremoniemeester Schalk Bezuidenhout gaan die program se verloop met ligte vermaak bymekaar hou.

Wimpie van der Sandt, hoof- uitvoerende beampte vir Bok Radio, sê dit was vir hulle ʼn maklike besluit om betrokke te raak. “Ons het die afgelope drie jaar stelselmatig ons musiekformaat begin aanpas om tred te hou met die veranderinge in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Daar was die afgelope tyd ʼn duidelike kopskuif in die musiekbedryf en ou gunstelinge soos Valiant Swart en Koos Kombuis is baie gewild onder ons luisteraars.

Early B.

Early B.

“Francois van Coke, Die Heuwels en Sunset Sweatshop is almal voormalige Wes-Kaapse Bokkie-toekenningwenners. Ons hou van die manier waarop die manne te werk gaan en sien uit na ʼn lekker vertoning by Meerendal met die topname in Suid-Afrikaanse musiek!”

Liefde by die Dam is ook sinoniem met ʼn bietjie liefde gee en die konsert in Johannesburg vroeër vanjaar het bykans 800 komberse ingesamel.

“Die liefdadigheidsorganisasie Liefde Wen samel ná afloop van die konsert komberse in vir minderbevoorregtes. Ons help graag ander. Bring jou kombers en laat dit na die konsert agter. Liefde Wen sal seker maak dit kry die regte huis,” voeg Greeff by.

Wen

Drie gelukkige lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie wen na die Liefde by die Dam-konsert op 17 November by Meerendal in Durbanville. Die kompetisie sluit Vrydag 9 November om 10:00.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

NADIA ·

EARLY B – Ek like jou musiek kwaai…. Hey oom… dis ‘n treffer!!!!!! EK sal wat gee om jou life te sien!!!!!!!!!!

LB S ·

Ek het kaartjies by MM gewen vir die konsert by Emmarentiadam en moes dit toe maar vir my seun en sy vrou in Jhb gee. Sal ek so gelukkig wees om weer 2 kaartjies vir my en my man te wen? Dit was glo fantasties!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.