[Wen] Joe Foster vertel oor ‘Hartklank’-musiek

Joe-Foster-Hartklank

Joe Foster. Foto: Facebook.

Joe Foster, wat onlangs opslae in die musiekwêreld gemaak het met die “Pad na jou hart”-temalied, het vandeesweek by Maroela Media kom kuier om te gesels oor sy album, nuwe musiek en waar sy inspirasie vandaan kom.

Sy nuutste musiekvideo, “Vir jou gemaak”, het in net meer as ʼn maand meer as 40 000 trefslae op YouTube gehad. Joe vertel dié musiek vertel die storie van die proses waarin ʼn kunstenaar homself vind.

“Ek het lank gedink oor presies watter liedjies ek wil sing en bemark. Dit was ʼn proses om myself van voor te leer ken as solokunstenaar. Ek het byna 30 liedjies geskryf en slegs 13 gekies vir die CD. Dié CD is vol liefdesliedjies en gaan oor wat jou hart vir jou sê om te doen,” het hy vertel.

Die naam van sy album, Hartklank, het ook vir hom ʼn diep betekenis. “Soos wat ons Afrikaans praat, praat ons hart hartklank. Dis sommer ʼn naam wat ek opgemaak het vir die taal wat jou hart praat. As jy daardie taal verstaan, vat jou hart jou op ’n ongelooflike pad.”

Hy het Hartklank ook as handelsmerk uitgebrei. “Ek wou hê die naam moes groter wees as net die CD. Daar gaan ʼn boek wees en daar is ʼn winkel in Knysna. Dis ʼn boodskap wat ek graag wil uitdra. Dis iets wat my op ’n pad gevat het om agter te kom wanneer die Here met my praat en dis deur middel van hartklank.”

Joe vertel sy nuutste musiekvideo se lirieke is op dieselfde krans geskryf by Brenton-on-Sea waar die musiekvideo geskiet is. “Die liedjie gaan oor almal se doel in die lewe en om iemand se iemand te wees. Ek probeer nie ʼn treffer skryf of ʼn konsep vir mense gee nie. Ek wil net my gevoelens oordra en my hart aan mense te verduidelik. Ek skryf wat ek graag wil en sê wat ek graag wil. As dit is om oorlog te maak vir liefde, wil ek dit sê.”

Kyk die musiekvideo van sy liedjie “Vir jou gemaak”. Besoek Joe Foster se webwerf.

Let wel. Hierdie kompetisie is nou gesluit: Drie gelukkige lesers kan elk een van Joe se Hartklank CD’s wen in die Maroela Media en WS Marketing kompetisie. Stuur jou antwoord op die volgende vraag, asook jou naam, van, nommer en fisiese posadres na [email protected]: Wat is die naam van Joe se nuutste musiekvideo en liedjie wat binne een maand meer as 40 000 trefslae op YouTube gekry het? Wenners word per e-pos in kennis gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.