Wen met Klipwerf Orkes

Klipwerf Orkes. (Foto: verskaf)

“Ons maak musiek. Eerlike, lekker dansmusiek!”

Dít is die Klipwerf Orkes se wenresep vir 35 albums en 52 jaar se heerlike skoffelsukses.

Maroela Media het met Kobus Visagie en Gene van Niekerk, lede van die Klipwerf Orkes, gesels oor hul jongste album en dekades se gewilde boeremusiek maak.

“As mens met so iets begin, weet jy nooit of dit die regte ding is nie, jy doen dit omdat jy dit geniet,” het Visagie vertel.

Hy is een van die oorspronklike lede van die groep, en alhoewel hy toe as die jongste lid die verhoog betree het, is hy vandag die oudste.

Dié groep het lojale aanhangers, en aan die musiek wat hulle oorspronklik gelok het, wil Klipwerf nie verander nie.

“Ons klank en ritme is ongelooflik belangrik. Wanneer iemand Klipwerf sê, weet almal dadelik wat ons doen en hoe ons klink,” het Van Niekerk, wat al 21 jaar van die groep se 52 bestaansjare vir die orkes speel, gesê.

Dit is vir die groep heerlik om te sien hoe die gehoorlede dansbaan toe stroom wanneer hulle begin musiek maak. Wat die skoffelgroep uniek maak, is dat hulle selfs diegene lok wat twee linkervoete het en nie ’n tree kan dans nie.

“Die musiek bring ’n positiwiteit na mense toe. Is daar ’n groter kompliment as dit? Dit is nie net vir mense lekker om te dans op die maat van ons musiek nie, dit is musiek waarna hulle kan luister.”

Visagie vertel skertsend dat hulle al vir 52 jaar lank met elke optrede “Boesmanland”, wat deur Van Niekerk se ouma gekomponeer is, speel.

“Dink net hoeveel keer het ons dit al gespeel! En ons verander nie daaraan nie, hoor,” het hy vertel.

Tydens ’n optrede in Burgersdorp het hulle dit goed gedink om ʼn bietjie aan die Afrikaanse treffer te karring om die klank effens anders te laat klink.

“Ons het die ritme behou en net ’n saksofoon vir verandering gebruik. Toe ons daar klaar is, kom staan daar ’n ou voor die verhoog en skel vir ons uit,” het Visagie laggend onthou.

Dié voorval dien as ’n bewys dat daar nie aan die resep wat die groep met elke vertoning gebruik verander moet word nie.

Die deurlopende sukses van die groep kan toegeskryf word aan die Here se genade deur die jare en aan die groep se liefde vir musiek.

“Ons ervaar die Here se genade, ons kan mos nie daaroor stilbly nie. Musiek maak en Klipwerf-wees is ’n leefwyse.”

Om getrou aan hulself te bly is ’n lewensleuse wat die groep na aan die hart hou.

“Jy moet wees wie jy is en jy moet jou beste voet voor sit,” het Van Niekerk benadruk.

Visagie vertel dat die waardes wat die groep vandag nog as waardevol ag, van die oorspronklike lede van die groep afkomstig is. Hulle weet waar hul wortels lê en beplan nie om dit uit te ruk nie.

(Foto: verskaf)

Hy gesels trots oor die verskeie toekennings wat die groep deur die jare ingepalm het.

“Dis vir ons ’n wonderlike voorreg. Baie orkeste smag daarna en kry dit nie noodwendig reg nie.”

Wen!

Vyf gelukkige Maroela Media‑lesers staan die kans om Klipwerf Orkes se splinternuwe album, Hantam laat my los, te wen.

Vul die vorm hieronder in om ’n kans te staan om te deel in dié skoffelmusiek.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum is Vrydag 8 Julie 2022 om middernag en die wenner sal Maandag 11 Julie aangekondig word.
  • ’n Wenner sal lukraak gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media per e-pos en telefonies met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Maroela Media en Klipwerf Orkes kan nie aanspreeklikheid aanvaar as die pakkie beskadig word tydens aflewering nie.
  • Die prys sluit een album per wenner in en daar sal vyf wenners getrek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oom Kobus ·

Waar is die inskrywings vorm vir die Klipwerf kompetisie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.